Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake | Finansies & Tegniek | LandbouWeekblad |
Huisgenoot
| Dit | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
Error processing SSI file
 

Voorblad
Wegbreke
Artikels
Toere
Dagboek
  • 4x4-datums
  • Bergklimdatums
  • Stapdatums
  • Sê jou sê
    Boeke
    Wenfoto
    Volksblad
    Weer
     
    Wie's Ons Soek Advertensies
      Aangebied deur:

    05/05/2005 06:42 AM - (SA)
    Reik na sterre op Rouxville se Zodiac-roete
    CHARLES SMITH


    ROUXVILLE. - Sterrekykers kan die hemel pikdonkernag van seker die heel hoogste troon in die Suid- Vrystaat kom beloer. Dit is nou daai troon. Hmmmm, 'n kleinhuisie, vir die wat steeds twyfel.

    Die Zodiac-roete op die plaas Leeupoort 'n leeuspoegie uit die dorp uit, het 'n paar baie spesiale stilhouplekke tussen die besem- en bloubosse en die olien- en witstinkhoutbome.

    Die troon is een so plekkie. Daar kan jy jou sit kry. Gemaklik. En oor 'n ou, ou wêreld tuur. Bo of onder jou.

    Jy kan jou oë gooi soos 'n San- jagter agter 'n ribbok aan wat wip- wip deur die rant, of soos 'n pionierboer sy plaas se letsels, knoppe en lyne soos 'n vrou uit die landskap gemeet het.

    Hier, hier onder jou, hier het Piet Retief en die boys van die Oos-Kaap af die waens langes Leeuspruit gestuur die Dingaanswêreld in. Plaas hulle in die lieflike kom neffens die spruit kom kraal opslaan het.

    Doer, so duimlengte met die oog gemeet, lê die Swanepoels in die mooiste kerkhof in versierde klip en marmer toegepak. Oupa Flippie, Vrystaatse Volksraadslid, en sy mense.

    In die rant kan jy met die kiepersolle gesels asof hulle jou ooms is. Hier smelt jy soos die ligene teen die klip weg in die veld; jou gedagtes word patryse wat koes deur die digte bosse.

    Maar om hierbo te kom, dis die hele ding wat 'n viertrekman se onderstel laat bewe.

    Soos jy hier sit, kan jy sien waar jy die viertrek langs die ou klipmuur met die granaatheining in die kampeerplek aangesit het.

    In die windskuilte waar jy vuursteek is 'n reuse-kliptafelblad in die vorm van Afrika wat omtrent so swaar soos Afrika self is en wat mnr. Willie de Wet en sy seun, Boeije, hierheen gesleep het.

    Die paadjie loop verby een van die oerbloekoms van hierdie wêreld wat vergrys en versteen het in die baie winters en van die dikste stamme het waarvan jy al gehoor het; nou sleep hy verby die kerkhof, verby die "simbool van die Nuwe Suid-Afrika", die witstinkhout en die bloubos met die wit en swart stamme wat saam beur en stoei uit dieselfde kolletjie Afrika- grond.

    Jy kan die viertrekroete (bykans 30 km) - of die makliker roete - rant-oor kies. Jy kan voetslaan ook, as jy wil.

    Heelbo briek jy langs die klipskans waar die Boere in die Anglo- Boeroorlog boodskappe na Koesberg geflits het.
       Onder, effe tru, is die oorhangkrans met die bontbeeste wat die San-skilders teen die rots geteken het sodat ons hulle kan onthou - die eerste sterrekykers van hierdie wêreld.

    Hier is jy omring deur die koppe. Alkant galop die vlaktes donderend na jou aan. Jy sien Aasvoëlberg by Zastron, Koesberg neffens hom, Elandsberg waar wyle staatspresident Jim Fouché se plaas Babel is, Houtberg, die Witteberge by Lady Grey in die suidooste, Kramberg by Aliwal-Noord reg suid; Wolwekop, Asvoëlkop en Zeekoegat-se-berg in die suidweste; Smithfield se berg wes. Rouxville lê gesmoor in 'n waas van 'n reënwolk effens suid.

    Wes van die rant kan jy lekker speel met die staalwa: Jaag hom deur die modder, ry wipplank oor reuse-bloekomtakke, daag die steil walle uit. Wes van die berg kan jy oor twee stompe 'n diep donga terg. Jy's bang om die sloot te voet oor te steek, wat nog te sê met 'n wa!

    Maar kom jy donkernag hier uitgery, met jou vierhonderperdekragkar en jy parkeer hom reg onder die Suiderkruis se maters aan die westenek, net sodat die suidewindjie se spook verby jou sal gly, dan kan jy daar op jou rug 'n sluk polisiekoffie vat en vir jou 'n stuk plaas bo in die hemelruim koop - met elkeen van die hoekpale 'n gloeiende ster.

    Of gaan wees koning op die hoogste kroon, soos die hamerkop op sy nes op die rant van die waterval in die donker kloof skuins regs van jou, en kyk dan uit oor die donker, rustende ou plaas waar vyf geslagte Swanepoels al van 1834 af hierdie goeie plek se lê- en ryplekke goed leer ken het.

  •  Die pad na die Zodiac-viertrekroete draai 5 km voor Rouxville op die Smithfield-pad uit.

    Bel 073 376 7300 vir besprekings.




    Back to top     Na bo

    © 2004 Buitelewe (Volksblad) - Kopiereg Voorbehou

     

  •