JOHN HEUVEL van Sandvlei is die nuwe raadslid vir wyk 15 nadat hy die tussenverkiesing verlede Woensdag vir die Onafhanklike Demokrate gewen het.
Met mnr. Heuvel se oorwinning het hy die setel by die DA afgeneem, wat met net meer as 200 stemme die wyk verloor het.
Wyk 15 bestaan uit Macassar, Faure, Firgrove, Sandvlei, Kramat asook Heldervue en Somerset Ridge.
Die tussenverkiesing is gehou nadat Edward Pietersen van die DA in Januarie aan 'n hartaanval gesterf het.
Die uitslag was ook 'n groot teenslag vir die ANC, wat voorheen groot steun in die wyk geniet het. Hulle kon net meer as 600 stemme trek.
Vyf politieke partye en twee onafhanklike kandidate het in die verkiesing gestaan.
Mnr. Heuvel het 2 514 stemme gekry terwyl Veruscka Leitch (DA) 2 298 gekry het, Harry Afrika (ANC) 632, Daphne Williams (ACDP) 160, Emma van der Merwe (UP) 45, Francis Swarts (onafhanklike) 150 en Shamiel Boer (onafhanklike) 87.
Mnr. Heuvel skryf sy oorwinning toe aan die feit dat mense van Macassar moeg is vir die leë beloftes wat aan hulle gemaak is.
Hy sê vir die laaste twee jaar het daar niks in Macassar gebeur wat lewens van die inwoners verbeter het nie.
"Ons woongebied is vuil en my eerste prioriteit gaan wees dat dit skoongemaak moet word, veral die riviere wat 'n seer oog is," sê hy.
"Ek beoog ook om werkskeppingsprogramme daar te stel en om vandalisme deur die gemeenskap aan te spreek," sê hy ook.
Mnr. Heuvel het ook oorlog verklaar teen smokkelhuise wat die gemeenskap afbreek.
Hy is veral bekommerd oor die jeug en drankmisbruik, veral op Sondae.