'n TRAGIESE voorval het hom op Goeie Vrydag in Macassar afgespeel, toe Willem Cornelius (50) na bewering deur sy stiefdogter vermoor is.
Na verneem word is mnr. Cornelius se stiefdogter 'n pasiënt van die Lentegeur Hospitaal in Michells Plain.
Zola April (24) is op die toneel in hegtenis geneem en het die naweek agter tralies deurgebring.
By haar verhoor Dinsdag is die saak tot Dinsdag 1 April uitgestel.
Die voorval het by mnr. Cornelius se woning in Snoopystraat plaasgevind. Volgens die polisie in Macassar het daar 'n woordewisseling tussen 'n groep vriende wat in die agterplaas van die huis gedrink het, ontstaan.
Me. April het na bewering in die kamer gegaan waar haar ma en stiefpa op die bed gelê het.
Die woordewisseling is daar voortgesit en mnr. Cornelius is drie keer in sy bors gesteek. Hy het op die toneel beswyk.