JONGMENSE, en ook hul ouers, moet altyd bedag wees vir die gevare wat daar selfs op oënskynlike veilige plekke skuil.
Só vertel 'n ma van die Strand, nadat haar 19-jarige dogter Dinsdag 1 April, by Welgelegen woonstelle in Kusweg ontvoer is.
Die meisie, wat as kelnerin by 'n restaurant werk, is omstreeks 01:15 deur 'n vriendin wat saam met haar werk, by die woonstelblok afgelaai. Toe hulle stilhou, het hulle 'n groep mans buite die hekke sien staan, maar geen onraad vermoed nie.
"Bel my as jy veilig tuis is," het haar vriendin nog met die groetslag gesê. Die meisie was reeds deur die buitehek en binne die hysbak, toe haar selfoon lui.
Dit was die vriendin wat sê sy het nog haar grimeertassie en sy het weer uitgegaan. Op daardie stadium, het die mans haar geroep en gedreig hulle sou haar skiet as sy nie nader kom nie.
Toe die verskrikte meisie huiwer, het die mans oor die muur gespring, haar gegryp, oor die muur gelig en in hul voertuig gedruk. Daar was vier mans en 'n meisie in die motor en hulle het met haar na Macassar gery en toe na Khayelitsha en 'n paar keer gestop, vermoedelik ook by 'n smokkelhuis.
Tydens die nagmerrierit, is die meisie se juwele van haar arm en haar nek afgeruk. Hulle het haar ook van haar handsak beroof, waarin haar salarisloon was en haar gedwing om haar pinnommer aan hulle te gee.
Die bevreesde meisie het ingestem om dit te gee, mits hulle belowe om haar nie dood te maak nie. By een van die plekke waar hulle gestop het om vermoedelik geld te trek, het hulle haar gevra of sy die limiet op haar rekening vir die dag al getrek het.
Volgens die meisie se ma het haar dogter se ontvoerders later teruggery na Somerset-Wes, en was dit asof hulle paniekerig geraak het, nadat hulle vermoedelik 'n polisiemotor op die pad gewaar het.
Na haar rit van bykans twee ure, is die slagoffer met 'n "This ends now," by Garden Village afgelaai. Haar gesoebat dat hulle haar selfoon vir haar moes teruggee, sodat sy haar ma kon bel, het op dowe ore geval.
Dit was omstreeks 03:00. Die meisie het opgestap na die vulstasie in Victoriastraat, maar die mense daar het nie haar storie geglo nie en wou nie toelaat dat sy hul foon gebruik nie. 'n Jong Rastafariër, het toe met haar na die Engin vulstasie gestap, maar daar het die fone net met foonkaarte gewerk. Uiteindelik het 'n petroljoggie haar sy selfoon geleen, om haar bekommerde ma te bel.
Die meisie het nie net haar hele salaris verloor nie, maar ook haar juwele, en al haar persoonlike dokumente, soos haar ID-boekie en leerling rybewys.
Volgens die meisie se ma is sy ontevrede oor die polisie se bystand ná die voorval. 'n Polisieman wou na bewering nie 'n verklaring neem, alvorens hulle nie vir hom 'n reeksnommer kon verskaf om te wys dat die selfoonbediener gekontak is en die gesteelde selfoon op 'n swartlys geplaas het nie.
Boonop, sê die ma, wou 'n polisiekaptein hê haar getraumatiseerde dogter moes pas na die gebeure saam met hom en die speurder na die Kaapse Vlakte ry, om te kyk of sy nie haar ontvoerders êrens kon gewaar nie.
Drie dae na die voorval was geen verklaring nog afgeneem nie en was 'n belofte van die polisie dat haar dogter trauma-ontlonting sou kry, nog nie gestand gedoen nie.