DIE Strand-hof het verlede Donderdag borg geweier aan 'n man wat na bewering gereeld by kredietkaartbedrog betrokke raak en telkens weghardloop as die polisie hom soek. Op 'n keer het hy glo selfs in 'n klerekas weggekruip om die polisie te ontduik.
Die hof het gehoor dat David Alexander twee hangende sake het, een van diefstal en een van klagtes van kredietkaartbedrog, asook 'n saak van beweerde kredietkaartbedrog in Bellville, waarop hy op R1 000 borg uit is, asook 'n saak in Somerset Wes.
Aanklaer Olivia Oktober het gesê Alexander is op 14 Junie 2007 in Strand gearresteer en het op 19 Junie borg gekry, maar het sy borg verbeur toe hy nie op 28 Augustus sy verskyning by die hof gemaak het nie.
Op 31 Augustus is hy weer gearresteer. 'n Lasbrief vir hom is weer in Februarie vanjaar uitgereik, nadat hy weer nie by die hof was nie omdat hy glo weer "uit was" met sy hofdatum.
Hy het op sy eie later by die hof uitgekom, maar op 20 Maart weer vergeet hy moes in die hof verskyn.
"Behalwe dat die staat borg teenstaan omdat u nie hof toe kom nie, het u nie 'n bankrekening of kredietkaart nie, tog word u gereeld aangekeer oor bedrog met kredietkaarte," het die aanklaer gesê.
Sy het genoem dat hy ?n vorige veroordeling in 2006 het vir die diefstal toe hy lugtyd (vir selfone) en een van kredietkaartbedrog by 'n garage, ook in 2006.
"U toon regtig ?n geneigdheid tot bedrog met kredietkaarte en as borg weer toegestaan word, sal u heel waarskynlik weer betrokke raak by kredietkaarte."
Deur videomateriaal uitgeken
Die ondersoekbeampte, inspekteur Cobus Greeff, het getuig dat hy self vir Alexander in die eerste saak deur videomateriaal, wat sy gesig duidelik toon, uitgeken het, nadat hy na bewering 'n kredietkaart by Firlands gebruik het, wat net om die blok gesteel was.
In die tweede saak het hy twee keer kredietkaarte wat nie aan hom behoort ter betaling aangebied.
Hy het nie die vrou gedreig nie, maar sy was paniekbevange, omdat sy gesien dat daar 'n vuurwapen agter by sy broek uitsteek, het inspekteur Greeff gesê.
Hy het later vasgestel dat daar geen vuurwapenlisensie in die beskuldigde se naam geregistreer is nie, en ook dat hy geen bankrekening of kredietkaart by die bank het nie.
Inspekteur Greeff het getuig dat hy elke keer dat lasbriewe vir Alexander uitgereik is, weggehardloop het.
In die eerste saak van diefstal toe die polisie hom in Macassar gaan soek het, het hy helder oordag weggehardloop.
Hy het ook by sy ouerhuis in 'n kas vir die polisie weggekruip en op 'n ander keer by ander mense, op 'n fiets weggery.
By die Mondeor-woonstelle het hy deur 'n agterruit gespring en weggehardloop.
"Ek kan met vrymoedigheid sê hy is 'n vlugrisiko en dat dit 'n vermorsing is van die staat se geld om hom op borg vry te laat. Hy het geen ontsag vir die publiek en geen borgtog gaan hom keer om weer by kredietkaartbedrog betrokke te raak nie."
Landdros S. Lea het gesê die hof kan verstaan as iemand hom een keer misgis met 'n hofdatum, maar nie as hy drie keer uit is met sy datums nie.
"Daar is tye dat jy hof toe kom, en ander dat jy nie kom nie. Geen borgvoorwaardes kan dit oorbrug of verander nie."
Borg is geweier en die saak is uitgestel tot 23 Julie.