BORG van R5 000 elk is Maandag hier in die Strand landdroshof toegestaan aan twee beskuldigdes, wat op heterdaad betrap is terwyl hulle glo besig was om 'n "tikfabriek" te bedryf, in 'n woonstel skaars 'n straatblok weg van Kusweg.
Die twee aangeklaagdes, Eduard Benade (48) en Jeanne-Pierre Smit (28) is Donderdag 19 Junie in hegtenis geneem toe inspekteur James de Ville, na 'n maandlange ondersoek 'n lasbrief bekom het en saam met konstabel Vernon Louw en vrouekonstabel Melissa Fredericks op 'n woonstel in die Berg- en See woonstelle op die hoek van Da Gama en Faganstrate toegeslaan het.
Die polisie se eenheid van georganiseerde misdaad is ontbied, nadat hulle op vier pyrex bakke afgekom het wat in 'n kas versteek was. In drie van die bakke was daar 'n vloeistof, maar in die vierde bak het die tik-kristalle al begin vorm.
Die twee mans se regsverteenwoordiger, Oscar Katz van Liddell Weeber en Van der Merwe prokureurs, het gesê die woonstel is in Smit se pa se naam geregistreer en dat hulle die afgelope jaar daar woon.
Hy het gesê dat mnr. Benade 'n vorige veroordeling het vir bedrog, en 'n hangende saak van dronkbestuur. Smit het geen vorige veroordelings nie.
Landdros S. Lea wou by die aanklaer, Amanda Koopman, weet waarom die staat nie borg teenstaan nie. Volgens haar was dit omdat die mans nie vorige dwelmverwante sake teen hulle het nie.
"Jou kliënte is baie gelukkig hulle kry borg," het die landdros aan mnr. Katz gesê, "die staat het nie sy mandaat nagekom nie. Dis 'n ernstige klag. Die getal tiksake in Strand is besig om toe te neem. Dis nie net 'n geval dat die mans in besit was van tik, of dit verkoop het nie, hulle was besig om dit te maak."
Mnr. Katz het gesê die aanklaer wou sy kliënte onder huisarres plaas, maar hy het gevra dat die ure van 11:00 tot 15:00 uitgesluit word van huisarres omdat Benade glo parfuum verkoop en Smit, rekenaars regmaak, en dit die ure is wat hulle hul besighede bedryf. Hy het ook genoem dat sy kliënte tot R3 000 kan betaal.
Die landdros het hom in die rede geval. "R3 000 is te min. Borg word op R5 000 elk vagestel en hulle sal in hegtenis bly tot die bedrag betaal is." Volgens die borgvoorwaardes moet hulle twee keer per week, op Maandae en Vrydae tussen 10:00 en 15:00 by die Strand polisiestasie rapporteer. Hulle word ook onder 24 uur huisarres geplaas, uitgesluit die tydperk tussen 10:00 en 15:00, om hulle kans te gee om hul besigheid te doen en om by die polisiestasie te gaan aanmeld.
Die saak is uitgestel tot 10 September vir verdere ondersoek.