DIE Macassar polisie het Woensdag 'n groot slag geslaan, toe daar op die dwelm tik en vyf rewolwers, asook ammunisie beslag gelê is.
Die polisie is bekommerd dat die ammunisie wat daar gevind is, gebruik word in transitorowe.
Van die rondtes is skerppunt ammunisie en dit mag nie deur die publiek besit word nie.
Volgens die polisie, het hulle inligting ontvang dat daar by twee huise in Sheikh Yusufstraat in New Macassar Village, met dwelms handel gedryf word.
Nadat hulle 'n lasbrief bekom het, het hulle op vyf pakke tik ter waarde van ongeveer 'n kwart miljoen rand, asook die vyf vuurwapens, 159 .22 patrone, 100 .45 patrone asook 32 9mm patrone beslag gelê.
Na verneem word weet die polisie wie die eienaar van die huise is.
Dis glo een van die opkomende high flyers van die gebied.
'n Vrou is op die toneel in hegtenis geneem. Nadine Luke (24), het Vrydag in die Somerset-Wes landdroshof verskyn waar sy op eie verantwoordelikheid vrygelaat is.
Die saak teen haar is tot Woensdag 30 Julie uitgestel.