CHRIS NISSEN, voormalige leier van die ANC in die Wes-Kaap en nou sakeman, het verlede naweek 50 jaar oud geword en het sy parytjie Sondag saam met die gemeenskap van Chris Nissen Park gevier.
Eerwaarde Nissen sê hy en sy vrou, Charlene, het verkies om die geleentheid saam met die gemeenskap te vier, omdat hulle so na aan hul harte lê.
In 'n baie emosionele toespraak het Dina Adams, leier van Chris Nissen Park, gesê dat hulle gemeenskap baie dank aan Chris Nissen verskuldig is.
Sy sê dit was ongeveer 20 jaar gelede dat Chris Nissen by die gemeenskap betrokke geraak het, toe hulle as plakkers langs die ou Sir Lowry's Passpad gewoon.
Volgens mev. Adams moes hulle uit nood langs diè pad gaan plak, nadat die meeste van hulle van die omliggende plase verdryf is. Omdat hulle geen heenkome gehad het nie, was hulle genoodsaak om in die bosse te gaan woon. Die polisie en wetstoepassing van die plaaslike owerhede het hulle 'n harde tyd gegee deur hul strukture af te breek.
"Ons het van Chris Nissen gehoor en het by hom gaan hulp soek en sedertdien het hy hom oor die gemeenskap ontferm en ons onder sy vlerk geneem. As dit nie vir hom was nie, sou ons seker ten gronde gegaan het, maar deur sy leiding en met die hulp van ander kan ons met trots terugkyk na wat ons saam vermag het. Dit is deur Chris se toedoen dat ons vandag met ons eie huise kan spog", het sy gesê.
In sy toespraak het eerw. Nissen die gemeenskap bedank dat hulle hom gekies het om hulle te help. Hy het ook die mense gewaarsku om nie laks te raak nie en om te sorg dat hul woongebied altyd netjies is, soos dit destyds in die plakkerskamp was.
Hy het ook die kwessie van dwelmmisbruik aangespreek en gesê dat almal moet saamstaan teen tik, omdat dit besig is om die jongmense te vernietig.