DIE leerders van die Laerskool Silukhanyo in Nomzamo moes Maandag die nuwe skoolkwartaal in die koue begin, nadat diewe sewe van die skool se klaskamers se vensterrame gesteel het.
Volgens Philip Mbalulo, skoolhoof, het hulle die skade vroeg Vrydagoggend ontdek.
Die vensterrame wat van alluminium gemaak is, is gesteel om by skrootwerwe te verkoop.
Mnr. Mbalulo sê hulle het die saak by die polisie aangemeld en het ook die gemeenskap se hulp gevra, om te help dat die diewe gevang word.
Hy sê die departement van Onderwys in die Wes-Kaap is in kennis gestel en hulle hoop dat die vensters so gou as moontlik installeer sal word.
Die omvang van die skade kon nog nie bepaal word nie.
Intussen gaan hulle plastiek voor die vesters plaas om die koue en reën te probeer uithou.
Verskeie kinders weggewys
Die skool was aan die begin van die jaar in die nuus toe ouers die skoolhoof en raadslid Samuel Matha in 'n skeepsvraghouer gevange gehou het, toe daar nie genoeg akkommodasie by die skool was nie en verskeie kinders weggewys is.
Nadat die Departement van Onderwys ingetree het om meer klaskamers daar te stel, is die mense vrygelaat.
Diè departement het ook op daardie staduim aangekondig dat hulle 'n nuwe skool in die woongebied gaan oprig en dat die tenders vir kontrakteurs teen Mei bekend gemaak sou word.