Plaaslike ondernemings kan groot geld losslaan as hulle onder die wenners van die SA Onderneming van die Jaar-kompetisie beland.
Met erkenning, publisiteit en pryse van meer as R100 000 op die spel, word ondernemings landwyd weereens uitgenooi om mee te ding vir die titel van Onderneming van die Jaar.
Die kompetisie, wat deur Old Mutual in samewerking met die AHI, Media24 Koerante, Ontbytsake op Kyknet, Business Partners en Rapport geborg word, stel hom ten doel om die algehele profiel van ondernemings in die land te verhoog.
Deur die kompetisie beoog Old Mutual voorts om 'n gesonde kultuur van mededinging binne die sakesektor te vestig asook om die algehele vlak van dienslewering landwyd te verbeter. Die kompetisie identifiseer en gee erkenning aan ondernemings wat uniek is, wat uitstekende diens lewer en wat 'n bydrae tot werkskepping maak.
Ondernemings kan inskryf in een van twee kategorieë.
Kategorie een is 'n ope afdeling vir ondernemings met 'n jaarlikse omset van R15 miljoen of meer. Kategorie 2 is die Kleinsake-afdeling vir ondernemings met 'n jaarlikse omset van minder as R15 miljoen.
Die algehele wenner in elk van die kategorieë sal R25 000 kontant ontvang, gratis mediablootstelling asook 'n Onderneming van die Jaar trofee en sertifikaat. Elk van die naaswenners in die twee kategorieë sal R15 000 kontant ontvang. Die wenners in die derde plek sal elk R10 000 kontant ontvang.
Alle diens-, handel- of industriële ondernemings wat produkte vervaardig, of dienste lewer, mag deelneem.
Enige eienaar of bestuurslid van 'n onderneming wat aan die kompetisie-kriteria voldoen, mag 'n onderneming nomineer of inskryf vir die kompetisie.
Enige derde party wat glo dat 'n bepaalde onderneming of maatskappy aan die kriteria van die kompetisie voldoen, mag sodanige onderneming nomineer of inskryf, maar met die toestemming van die eienaar of bestuur van daardie maatskappy.
Deelnemers kan aanlyn inskryf, of hul inskrywing pos aan: Onderneming van die Jaar Kompetisie, Posbus 43297, Industria, 2042.
Jy kan ook jou inskrywing e-pos aan aderasmus@businesspartners.co.za.
Deelname is gratis en die sluitingsdatum is 15 Julie.
Inskrywingsvorms en verdere inligting is beskikbaar by www.oldmutual.co.za/enterprise.