Oor die feesseisoen het vandale by Helderberg Netbal-klub se klubhuis in die Strand ingebreek en wasbakke uit die mure geruk en gebreek, meubels verwoes en ook koperpype en netbal apparaat gesteel.
Aangesien die heining en hek van die klub gebreek is en op plekke nie meer bestaan nie, was toegang tot die perseel maklik. Daar is onlangs ook opgemerk dat basketbal op die klub se bane gespeel is en van die netbalringe hang nadat groot manne 'n doel ge-"slam-dunk" het.
Helderberg Netbal is al in bestaan sedert die 1980's toe dit as Gordonsbaai Netbal bekend was.
Die gronde waarop Helderberg Netbal oefen en speel, behoort aan die munisipaliteit, en nie aan die klub self nie. Die munisipaliteit is dus verantwoordelik vir die instandhouding van die gronde, terwyl Helderberg Netbal die alledaagse rekeninge soos water en ligte, en die herstel van die spreiligte, moes dek.
Op navraag aan die munisipaliteit, val die gronde nie onder areas wat deur hul versekering gedek word nie, en is die skade Helderberg Netbal verantwoordelikheid.
Die hoofdoel van die klub is om netbal toeganklik te maak aan almal in die gemeenskap deur die klubfooie tot 'n minimum te hou.
In 2007 was die lidmaatskap slegs R250, terwyl ander klubs in die Boland streek tot R1 000 gevra het.
Verlede jaar het die vyf spanne van die klub goed presteer in die Boland Liga en daar is sewe speelsters opgeneem in verskeie Bolandspanne.
Miemie Thiart, wat president van die klub is en wat al diep spore in die netbalkringe van die Boland geloop het, was afrigter en bestuurder van drie van die Bolandspanne in 2007.
Met hierdie groot terugslag het die komitee van die klub geen ander opsie as om die jaarlikse lidmaatskap te verhoog met 'n aansienlike bedrag nie.
Maar optimisme loop hoog onder die speelsters en hierdie terugslag sal hulle nie onder kry nie.
Indien daar enige besighede is wat die klub finansieël of met toerusting, boumateriaal en apparate wil ondersteun, kan hulle die voorsitter van die klub, Helene Saayman, by 083 4460 964 bel.
Die klub se oefeninge het alreeds begin en aangesien die klub se gronde nie geskik is vir oefeninge nie, sal dit voorlopig by Laerskool Beaumont plaasvind. Almal is welkom. Bel die voorsitter vir meer inligting.