Helderberg was verlede Saterdag kniediep in die moeilikheid toe hulle sowat 15 minute in die tweede helfte met 17-3 agtergeloop het teen besoekers Wellington, voordat hulle bygekom het en die wedstryd 25-17 gewen het.
Die wynboere het van die begin af die pas aangegee en geleidelik die krane oopgedraai. Voorlangs was die stryd gelykop, met die tuisspan in beheer in die lynstane.
Vir Wellington was slot, Tiaan Burger, jonger broer van Springbok Schalk Burger en seun van Springbok Schalk Burger senior, baie werd. Die besoekers was na twee goeie driëe en 'n doelskop 12-3 voor, met rustyd.
Helderberg heelagter, Ian Coetzee, het met 'n strafdoel geslaag, voordat hy die veld moes verlaat met 'n kniebesering.
Sy plaasvervanger, Anthony Maarman, het goed gespeel. Tien minute na hervatting was Wellington weer op die telbord met nog 'n drie (17-3). Kort daarna na goeie dryfspel deur Helderberg se agste man, Julian du Preez, het Helderberg 'n onverdoelde drie gedruk (17-8). Volgende het buitesenter Stephan du Toit nog 'n onverdoelde drie gedruk (17-13). Binnesenter Wikus van Dyk het Wellington se agterlyn laat stilstaan met 'n 40 meter lopie en Stephan du Toit in besit gestel, vir nog 'n drie. Hierdie keer verdoel deur losskakel Karlo Aspeling 20-17.
Die vierde en laaste drie is gedruk na 'n goeie breekslag deur plaasvervanger skrumskakel Werner Williams en afgerond deur haker J.G. Giliomee in die hoekie 25-17.
Voorspeler van die dag was flank Gary Williams en agterspeler skrumskakel Breyten Isaacs. Die Tweedespan het sy wedstryd teen Wellington gerieflik met 26-0 gewen.
Hierdie week speel die klub se eerstespan teen die Argentynse span, St.Albans. Die tweede en derdespanne pak Hawston -almal op die Charles Morkel velde vanaf 13:30.
Op Woensdag 19 Maart speel die klub se spanne tuis teen Van der Stel. Die o/20's skop af om 18:00. Helderberg 4de span pak Van der Stel se derdes om 19:00, Helderberg se derdes speel teen Van der Stel se tweedes om 20:00 en die eerstespanne speel om 21:00.