Helderberg het die afgelope Saterdag al drie sy rugbywedstryde by die Charles Morkel Stadion gerieflik gewen, teen sy Bolandse besoekers van Hawston.
Die beplande wedstryd teen 'n Argentynse span is op die nippertjie gekanselleer, weens 'n fout van die reisagentskap.
Die klub se eerstespan het hierdie keer eerste punte aangeteken. Na 'n sterk breekslag van buitesenter Stephan du Toit, het binnesenter Wicus van Dyk in die hoek oorgegaan (5-0). Die gewillige en gedissiplineerde besoekers het gou reageer met nog 'n onverdoelde drie (5-5). Hawston was kort daarna voor na 'n suksesvolle strafdoel (5-8).
Senter Wicus van Dyk het weer die telling laat groei, met sy tweede drie na 'n lopie teen die kantlyn (10-8). Die doelskop het weer misluk.
Helderberg was daarop ingestel om vyftien-man rugby te speel en die balvaardige slot en kaptein, De Wet Neethling, het sy beweeglike pak met voorbeeld gelei.
Kort hierna het agsteman, Tiaan Roode, 'n drie gaan druk en losskakel Karlo Aspeling het verdoel om die rustydtelling 17-8 te maak. Met die hervatting het Helderberg se dominasie toegeneem. Senter Wicus van Dyk het oorgegaan om sy driekuns aan drieë te voltooi (22-8). Die woelige haker, Gielie Gilliomee, was die volgende driedrukker, maar die swak stel-skopwerk het voortgeduur (27-8). Regter-vleuel Shaun Labuschagne het sy drie gaan druk na 'n blitsige lopie teen die kantlyn af (32-8) en net na die inskop 'n sekere drie verhoed met 'n laagvat, 10 meter van Helder-berg se doellyn.
Plaasvervanger, senter Ashlyn Hearn, het die sewende drie gedruk en plaasvervanger heelagter, Chippa Kok, het verdoel (39-8). Hawston het nooit opgegee nie en 'n goeie drie op die regtervleuel gedruk (39-13). Die laaste drie het behoort aan Shaun Labuschagne en Chippa Kok het weer verdoel om die eindtelling 46-13 te maak. Spelers van die wedstryd was De Wet Neethling (voor) en Wicus van Dyk.
Helderberg se tweedespan klop Hawston 22-0 en die derdespan wen 29-7.