"Inwoner" van die Helderberg skryf:
Ek wil graag my opinie lug oor die artikel, "Car disappeared into thin air" in verlede week se DistriksPos.
Dit is jammer dat dit die voertuig van 'n enkelouer moes wees wat gesteel is. Daar was miskien 'n doel daarmee; daardie voertuig sou haar miskien meer gekos het om te herstel as wat sy daarvoor betaal het.
Mense moet versigtiger wees met aantygings wat hulle maak.
Daardie voertuig kon op menigte maniere verwyder word, dit kon weggesleep word of op 'n sleepwa verwyder word.
So eerstens wil ek 'n paar stellings aan dr. Ficker maak: Ek dink die aantyging wat hy gemaak het teenoor die insleepdiens, is onredelik. As die dame in Victoria Park woon, sal die persoon wat die voertuig regmaak, of selfs u, weet dat daar twee tot drie insleepvoertuie in die woonbuurt is, aangesien die bestuurders daar woon. Ja, insleepdiensdrywers bly ook in huise en het families.
Die insleepdiensdrywers doen 'n baie ondankbare werk, maar net soos wat jou beroep jou trots is, is hulle beroep hulle trots. Die mense werk baie langer ure as julle en probeer baie hard om 'n goeie indruk te skep en die wanindrukke wat voorheen van hulle gemaak is, te laat verdwyn.
Die insleepdiensdrywers doen maar net hulle werk en baie meer as wat u besef. Kyk maar na die "Arrive Alive Campaign" wat die Desembervakansie gehou is langs die N2 oorkant die Gantsentrum.
Hulle het lang ure gewerk terwyl menigte van ons die Kerstyd op vakansie was.
'n Ander voorbeeld is die brief in HelderPos hierdie week van die ouer gardes wat gaan staan het op die N2, waarin hulle vir Kenny van 1st Call Insleepdiens bedank.
Met een enkel stelling, dr. Ficker, het jy weer 'n baie groot groef tussen die insleepdienste en die inwoners van die Helderberg gebring.
Hierdie mense gee om vir hulle medemens en spandeer meer tyd in hul voertuie as wat meeste van ons by ons huis spandeer, en dit om ander te help.