"GESKOK" skryf:
So herhaal 7 Oktober 2007 homself weer 'n keer - nog 'n tref en trap en die skuldige lafaard kom weer weg.
7 Oktober 2007, Georgestraat, Strand. Onthou jy dit Mnr. die Bestuurder van die wit Conquest? Hoe doen julle dit?
Jou lewe gaan aan - ek wonder of jy ooit stil word in die binnekamers van jou hart en wonder wat het van daardie jong vrou geword wat jy soos 'n stuk vel deur die lug geslinger het en vir dood agtergelaat het.
Jy, selfsugtige, roekelose bestuurder, het daardie jong, onskuldige vrou se lewe daardie dag in jou hande geneem, jy het haar en haar familie en vriende se lewens vir ewig verwoes... maar jy kruip steeds weg.
Nooit weer sal sy normaal soos jy haarself kan versorg, kan rondbeweeg, vreesloos en vry kan loop teen die see af of ooit 'n bal kan skop saam met kinders op die strand nie.
Almal weet van die heel eerste dag af wie jy is, maar die gereg moet sy gang gaan - ons wil glo en vertrou die lêer is steeds oop en veilig in besit van iemand verantwoordelik en besorgd en dat hulle steeds hul bes sal doen om hierdie saak tot op die been oop te kerf.
Iemand moet betaal vir dit wat jy daardie dag gedink het 'n grappie was!
Jy kan nie vir ewig lewe of die wêreld jou iets skuld en vir ewig maak en breek soos jy wil en so almal om jou intimideer, manipuleer en afpers nie - ons Hemelse Vader slaap nooit!
En hierdie geld ook vir die persoon wat die jong meisie in Gordonsbaai omgery en weggejaag het twee weke gelede.
Jy kan hardloop, maar jy kan nie vir ewig weghardloop nie. Jul roekelose, selfsugtige lewens gaan iewers hard tot 'n stop kom - mag niemand ooit aan julle doen, wat julle aan hierdie betrokke twee jong vrouens se lewens en hul families gedoen het nie!