SANET COLLARD, woordvoerder vir die Strand Jetty Trust (SJR), skryf:
Ek wens Deon Smit sterkte toe met sy konsepvoorstel om die geskiedkundige jetty te herbou. Ek hoop regtig hy kry alles wat hy beoog, reg binne drie maande. Glo my die mense van die Strand en in besonder die SJT sal hom ewig dankbaar bly.
Ek wil Deon verseker dat die Jetty Trust geensins hierdie projek begin het om enigsins geld daaruit te maak nie. Inteendeel, almal op die trust gee hul tyd gratis.
Dennis Malan, wie se vader een van die kontrakteurs op die bestaande jetty was, het reeds aansienlike fondse geskenk om die projek van stapel te stuur. Volledige geouditeerde state is by ons boekhouers beskikbaar indien enigiemand daarin sou belangstel. Die STJ is daarop uit om die jetty te herbou vir die mense van die Strand, vir geen ander rede nie.
Die hele inisiatief van die Strand Jetty Trust het begin toe 'n klompie van ons, wat onder andere ook belange het in die besigheidsektor van die Strand, die agteruitgang van veral die sakekern kommerwekkend gevind het. Ons het bymekaargekom en besluit om te kyk of ons die jetty kan red, omdat die besluit destyds was dat die jetty gesloop sou word. Die Trust is gestig na 'n publieke vergadering in Strand op 20 Januarie 2004. Wanneer hy die beplanning begin doen, moet Deon in ag neem dat die jetty openbare eiendom is en goed-keuring vir enige planne deur 'n publieke vergadering gedoen moet word: dat 'n onderneming juis destyds gegee is dat die herboude jetty geen kommersiële stuktuur sal wees nie, dat toegang gratis sal wees, en die jetty min of meer soos die bestaande stuktuur sal lyk. Hy moet ook in ag neem dat studies wat deur onafhanklike kontrakteurs en die WNNR gedoen is, reeds bevind het dat die bestaande struktuur onderwater 'n gevaar inhou en dus nie gebruik kan word nie.
Omgewingstudies moet ook gedoen word voor enige bouwerk begin en omdat die jetty 'n Nasionale Monument is, moet goedkeuring eers verkry word van die Erfenisraad in Kaapstad. Mense kan my bel by 072 907 5602 vir enige verdere navrae.