"'n Inwoner van Firgrove wat omgee en 'n verskil wil maak", skryf:
Met die tussenverkiesing vir Wyk 83 wat op 19 Maart plaasvind, hiermee die volgende versoek aan die kandidate:
Wen of verloor na die verkiesing, verwyder asseblief julle plakkate wat aan elke lamppaal in Macassar, Firgrove en dele van Somerset-Wes hang;
Aan wie die wenkandidaat ookal mag wees, vervul asseblief jou verkiesingsbeloftes! Ons is mos geneig om te sien dat voor die verkiesing julle optogte en konserte hou, met luidsprekers rond ry en foto's neem met die gemeenskap.
Moet nou asseblief nie dat ons eers weer van jou hoor kort voor die volgende verkiesing nie;
Aan die kandidate wat dit nie maak nie, bly betrokke in jou gemeenskap, moet nie verdwyn nie. Ons het almal nodig wat 'n verskil kan en wil maak en wie weet jou kanse is dalk beter met die volgende verkiesing as jy betrokke bly in die gemeenskap;
Na die verkiesing, laat ons almal (ongeag politieke party-affiliasie) saamwerk om ons gemeenskappe te verbeter;
Die sportgemeenskap in Macassar sit tans sonder enige spreiligte en geriewe as gevolg van kabeldiefstal en vandale wat die klubhuis vernietig het.
Bespoedig asseblief die regmaak van die klubhuis (die versekeringsmaatskappy is reeds van die kwotasie daarvoor voorsien) en ook die aanlê van nuwe kabels. Betrek die sportgemeenskap wanneer u verkies is, dit is mense wat 'n positiewe verskil in u gemeenskap probeer maak en wie weet, dalk kry u hulle stemme in die volgende verkiesing as hulle sien dat u 'n verskil probeer maak;
Misdaad en veral diefstal aangevuur deur dwelmgebruik is 'n probleem. Maak dit u plig om woonbuurte wat nie oor dit beskik nie, te help met die stig van buurwagte en / of belastingsbetalersverenigings. Die enigste manier hoe ons dinge gaan verbeter is as ons almal saamwerk;
In ons omgewing vind baie nuwe ontwikkelings plaas. Daar is altyd beloftes van hoe plaaslike gemeenskappe sal voordeel trek uit werks- en besigheidsgeleenthede, maar dit word nooit gesien nie. Maak dit u plig om met ontwikkelaars te skakel om te verseker dat ons gemeenskappe wel voordeel trek. Laastens - voorspoed met die verkiesing en mag die beste persoon wen.