ONTWIKKELAAR Deon Smit skryf oor die jettie:
Die Strand jetty - is dit tyd vir aanbeweeg? Is dit moontlik of nie?
Die tyd breek nou aan vir die jetty om wiele te kry, want daar is nou weer eens druk om die jetty af te breek.
Dit is nou regtig gevaarlik om op die jetty te loop, lewensgevaarlik, en ek wil nou die owerhede wat betrokke behoort te wees vra om die jetty met lemmetjiesdraad af te spêr. Glo my, 'n kind kan sy lewe daar verloor. Daar is elke naweek baie bedrywigheid.
Jannie Kleynhans van JKT het my baie opgewonde meegedeel, dat as sy persoonlike bydrae, hy die klip sal gee wat benodig word.
Ons sal rande moet kry om die jetty te finansier, so min as R100 donasie sal help sodra die projek loods. Dit moet 'n lekker dorp-poging wees, sonder dat iemand se bankrekening dit moet voel. Dink net,"my geld is in die jetty" as jy daar verby ry of loop.
Ek wil net bevestig dat die projek in drie maande voltooi kan wees met samewerking van almal wat betrokke is. As ek my sin kry, is dit drie weke.
Gerrit Els van Gerrit Els & Associates CC gaan bystand verleen met die projek.
Miskien is dit nou 'n opsie om na te kyk om die "sloer aksie" uit te stel en in die Strand en sy mense se belang op te tree en die aangeleentheid met professionele bestuur af te handel, met ander woorde, besluite word geneem en nie gevra nie.
Dankie vir al die belangstelling!
RAADSLID DAVE VENTER reageer:
Deon Smit se entoesiasme vir die projek is verblydend.
Hy het egter nie begrip vir die omvang van die saak nie.
Ek aanvaar dat Deon se pogings suiwer is en daarop gemik is om die jettie as erfenis te behou.
Dit is egter nie so maklik as wat hy dink nie. Nasionale wette is in die gedrang, WNNR verslae en omgewinginpakstudies is van toepassing, om maar slegs 'n paar dinge te noem.
Baie van hierdie behoeftes is reeds deur die Strand Jetty Trust aangespreek en in plek geplaas om onmiddellik voort te gaan sodra Privaat/Publieke Ooreenkoms met die Raad gesluit is.
Dus kan lede van die publiek in die eerste plek nie (maak nie saak wie dit ookal is nie) sommer goedsmoeds fondse en boumateriaal insamel om die jetty te herstel nie.
Die jetty is en bly stads-eiendom en geen lid van die publiek kan daaraan werk of verander sonder dat behoorlike prosesse gevolg is nie.
Daar is reeds in 2004 deur die vorige administrasie toestemming verleen dat daar met 'n behoorlik gestigde Trust of artikel 21 maatskappy 'n ooreenkoms aangegaan mag word.
Die Strand Jetty Trust is gestig en onderhandelinge het begin. As gevolg van verskeie haak-plekke onder andere 'n Rand vir Rand klousule wat in die aan-vanklike ooreenkoms ingeskryf was, is die ooreenkoms nie geteken nie.
Die Raad kan of mag nie tot enige ooreenkoms verbind waar d
aar verwag word dat vir elke Rand wat 'n Trust inwin die Raad ook 'n Rand sal bydra nie.
Hierdie klousule is intussen verwyder en 'n nuwe ooreenkoms opgestel, wat by die Raad is vir oorweging en nadat dit deur die regsadviseurs goedgekeur is, vir ondertekening.
In Mei 2007 het die amptenary aanbevelings gemaak dat die jetty afgebreek moet word sonder dat daar enige aanbevelings in plek was om dit te vervang. Ek het die versoek teengestaan omdat sodra dit afgebreek is en daar nie 'n resolusie is om dit te herbou nie, hierdie geskiedkundige struktuur vir altyd vir ons verlore sal wees.
Ek het die burgermeester aan die begin van hierdie jaar genader om hierdie 'n spesiale projek van haar te maak en sy het ingestem. Ons het verskeie vergaderings met die verantwoordelike amptenare gehad. Tans word onderhoudskoste van so 'n struktuur bepaal om te verseker dat vroegtydig begroot word vir instandhouding. Dit is ongelukkig 'n vereiste wat afgehandel moet word.
Die aanbeveling dat die ooreenkoms geteken word, sal eersdaags voor die burgermeesterskomitee dien. Ek wil vir Deon Smit en enige ander voornemende donateurs versoek om nie nuwe prosesse te probeer aan die gang sit nie.
Die Strand Jetty Trust is die aanvaarde instansie met wie daar onderhandel is en ooreenkomste aangegaan sal word.
Enige inmenging vanaf ander organisasies en/of lede van die publiek sal die proses net weer vertraag. Ons is nou in die stadium waar al die struikelblokke geidentifiseer en uit die weg geruim is. Ek vertrou dat bogaande inligting lig op die aangeleentheid werp en dat Deon sal verstaan dat hierdie ongelukkig 'n langdradige proses is. - Brief verkort - Red.