DAVE VENTER, raadslid van Wyk 83, Strand, skryf:
Ek wil graag reageer op die brief wat verskyn het in die DistriksPos van 14 Maart, geskryf deur "Inwoner van Firgrove wat omgee en 'n verskil wil maak".
Eerstens wil ek net 'n regstelling maak. Die skrywer van die brief is waarskynlik nie daarvan bewus dat die wyk waarin hy/sy woon nie meer bekend staan as Wyk 83 nie.
Wyksgrense is deur 'n nasionale afbakenings-proses kort na die 2004 algemene verkiesing hersien. Wyksnommers is ook aangepas.
Die tussenverkiesing het dus nie Woensdag in Wyk 83 plaasgevind nie, maar wel in Wyk 15.
Ek stem heelhartig met die skrywer saam en onderneem om toe te sien dat die plakkate van die DA onmiddellik na die verkiesingsdag verwyder word.
Enersyds tot die persoon se pleidooi dat al die rolspelers betrokke bly by die gemeenskap, wil ek ook die publiek uitnooi om betrokke te bly. Dit is baie belangrik dat die publiek voortdurend op hoogte bly van gebeure in hul omgewing, gereeld met hulle raadslid en ander politici in aanraking bly en vergaderings bywoon wat spesifiek as terugvoering gereël word. Dit sal nie net goeie dienslewering verbeter nie maar ook verhoudinge tussen die verskillende gemeenskappe bevorder.
Dankie vir u goeie wense en positiewe bydrae. So sal ons saam nie net die Helderberg nie, maar ook ons provinsie en ons land vorentoe neem.