"Dis sommer nonsens" van Strand skryf:
Ek is teleurgesteld in die antwoord van raadslid Dave Venter in verlede week se DistriksPos oor die jetty.
As hy nie kan sien hoe politieke toutrekkery en rompslomp - dieselfde goed waaroor belastingbetalers elke week kla - die jetty al vir vyf jaar ontoeganklik maak nie, dan weet ek nie.
Kan hy en ander raadslede nie insien dat vyf jaar te lank is nie, dat mense self hand aan die ploeg slaan soos Deon Smit nie, omdat ons moedeloos is?
Ons is moeg gewag vir die strandmuur, moeg gewag vir gate in paaie wat nie toegemaak word nie, moeg gekla oor munisipale amptenare wat in hul tientalle afgelaai word om 'n klein werkie te doen en dan vyf maal op teebreke te gaan en vir ure rondlê.
Dis ons geld waarmee julle mors. Geen baas in die wêreld sal toelaat dat sy werknemers mors met sy geld soos die stadsraad met sy belastingbetalers se geld nie.
Die jetty was vir jare 'n toeriste-attraksie - nie net vir toeriste nie, maar ook vir plaaslike inwoners. As dit jare duur om 'n simpel kontrak oor te skryf en geteken te kry, kry ander mense om dit te doen. As julle geld uit belastingbetalers wil kry, is dit snaaks om te sien hoe dinge in weke in plek gestel is en briewe uitgestuur word.
Maar as belastingbetalers iets moet terugkry, skuil julle agter hoë woorde en regsterme.
Ons is nie ongeskoold nie, besef dat jul belastingbetalers opgevoed en opgelei is. Hierdie tipe ooreenkomste verg nie jare nie, dit kan vinnig uitsorteer word.
Ons is moeg gewag, hoera vir mense soos Deon Smit se entoesiasme. Gebruik hom en sy vriende, voor hy ook moed verloor soos baie voor hom.