"Inwoner van Boschstraat" skryf:
Ons as inwoners van Boschstraat in die Strand is die afgelope tyd wreed ontnugter toe 'n kerkperseel in 'n tikhuis omskep is. Sedert die onheiligheid wat daar aan die gang is, het inbrake toegeneem wat nog nooit daar plaasgevind het nie.
Ons wil graag die polisie onder leiding van supt. Koopman en die buurtwagte onder leiding van Jannie Frieslaar, bedank vir hul optrede van die afgelope tyd en dat soos verneem, daar verskeie arrestasies was.
Maar ons is ook geskok in wie se kinders hul tik koop by die tikhuis. Dit is nie net die polisie se plig om misdaad te beveg nie, maar ons almal moet betrokke raak. Ons doen 'n beroep op ouers van die Strand om toe te sien dat hul kinders nie die plek hul lêplek maak nie. Die kinders wat daarheen gaan, se ouderdomme wissel van 14 tot 22 jaar.
Behalwe die mense by die kerk, is daar nog 'n jongman in Boschstraat wat ook tik verkoop. Hy dra ontwerpte klere en staan met sy krom neus op die hoeke van die strate. Kom ons staan saam teen tik en meld die tikhuise aan by die polisie.