DIE gemeenskap van Garden Village het Vrydag in groot getalle opgeruk na hul gemeenskapsaal om duidelikheid te kry oor waarom die langverwagte 10 hektaar-ontwikkeling al sowat 10 jaar sloer. Hulle het ook 'n alternatiewe perseel wat hulle aangebied is, geweier.
Die inligtingsvergadering is deur raadslede Anton Fuchs, voorsitter van die Stad Kaapstad se Behuisingskomitee, en Heinrich Magerman, wyksraadslid, Hans Degenaar, direkteur van Stadsbeplanning en Behuising, Piet Engelbrecht, 'n ingenieur, en Johan Verwey van Asla, die kontrakteur, toegespreek. Al die sprekers het kennis geneem van die mense se frustrasies, maar gesê die vertraging is weens faktore buite almal se beheer.
"Alles het verkeerd gegaan ondanks pogings om al die meganismes in plek te kry om voort te gaan met die projek," het raadslid Magerman gesê.
Mnr. Verwey het gesê die huidige perseel naby die Melksloot veroorsaak tegniese probleme met meer as die helfte van die 303 persele wat in die vloedlyn lê en oorstroom sal word in swaar reëns.
"'n Ander perseel is al oorweg en "n alternatiewe stuk grond is geïdentifiseer langs Chris Nissen Park. As die mense bereid is om daarheen te gaan, sal dit gekoop word en sal die proses, en wagtyd vir die huise korter wees.?
Piet Engelbrecht het gesê die stad het R200 000 bewillig vir 'n ingenieursverslag oor hoe die probleem van die water opgelos kan word. 'n Retensiedam sal waarskynlik gebou moet word voor ontwikkeling kan begin.
Raadslid Magerman het gesê hy is ten gunste van die huidige 10ha, omdat die gemeenskap al lank daarvoor wag.
Dis ook naby winkels, skole en vervoer en die grond is meer waardevol. Die voordele van die ander perseel is dat die begunstigdes volgens die nuwe stelsel 'n groter subsidie sal kan kry en groter huise kan bou op die nuwe grond en dat die wagtyd korter sal wees.