Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake | Finansies & Tegniek | LandbouWeekblad |
Huisgenoot
| Dit | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
 

Helderberg
Front Page
News
  • Local
  • Business
  • Sport/Angling
  • Real Estate
  • Entertainment
  • Business Index
    Classifieds
    Forum
    Photo Gallery
    Tourism
  • Maps
  • Helderberg Info
    Lifestyle
  • Motoring
  • Gardening
  • Features
  • Contact Us
    News24
    Smalls24
     
    About Us Search Advertising
      Brought to you by:

    22/05/2008 11:16 AM - (SA)
    Ford is op die regte pad met Ranger en Focus
    230508


    DAAR was 'n effens langerige droogte by Ford in Suid-Afrika in die laat tagtiger- en negentigerjare. My generasie, wat gebore is in die tyd toe die groot gevegte tussen Ford en Chev aanhangers plaasgevind het, het die opkoms van die Duitse en Japannese motor-industrie - en die ondergang van die eens magtige Britse motor-industrie - meegemaak en was jammer dat die Amerikaanse motormakers dit nie gemaak het nie, veral nie by ons nie.

    Sedert die nuwe Suid-Afrika plek gemaak het vir die oue, met laasgenoemde probleme van politiek en sanksies, het dinge radikaal verander en is ons weer deel van die regte Ford-wêreld. Maar ook het die val van die Berlynse Muur en die Internet en globalisering die wêreld getref.

    Binne die Ford-wêreld word die Ford Ikon in Indië gebou en het hulle gebruik gemaak van enjins wat in Suid-Afrika vervaardig is. En die Ford Ka, wat in Spanje gebou word, gebruik ook dieselfde Suid-Afrikaanse enjins. Ons voer dus motors uit Euopa in wat terugkom met Suid-Afrikaanse inhoud!

    As 'n wêreld-speler, waar alles oor massaproduksie gaan om kostes so laag as moontlik te hou (economy of scale), is dit bemoedigend dat ons eie Ford aanleg in Gauteng nou 'n eie treinstasie kry om onderdele van PE na Gauteng te kry en dan ook weer hul vervaardigde produkte by die kus te kry om na die buiteland uit te voer.

    Ford van Suid-Afrika het so pas 'n bestelling vir 10 000 Ford Ranger bakkies gekry om na Afrikalande suid van die ewenaar uit te voer. Daar word voorsien dat daar in 2009 sowat 24 000 Rangers uitgevoer sal word en in 2010 sowat 40 000. Daarna is hulle teiken op 60 000 voertuie vir uitvoer. Hierdie ontwikkeling laat mens dink aan die spesiale treinstasie by Eersterivier-Blackheath wat in die sewentigerjare spesiaal gebou is om die "motortreine" van die Rand na die Kaap te akkommodeer.

    Ongelukkig het hierdie fasiliteit feitlik in duie gestort en word dit nie meer gebruik soos die planne destyds was nie. Daarom is die nuwe inisiatief van Ford so positief. Hul nuwe koers boesem by almal vertroue in. En almal weet ons het 'n slag goeie nuus en positiewe ontwikkelings nodig om deur die drif te kom!

    Om produksievermoë te verhoog, is Ford van Suid-Afrika besig om R1.5 biljoen in sy aanleg te spandeer. Van hierdie geld sal ook aangewend word om produksie-fasiliteite vir die Puma dieselenjin daar te stel.

    Die Ranger bakkie is een van die stervoertuie in die Ford-reeks wat plaaslik vervaardig word met onder andere sy handige halwe-dubbele reeks waar die gedeelte agter die deure ook ekstra deure het om maklike toegang tot die agterste ruimte te gee.

    Geen wonder dan dat die polisie ook nou 'n groot aantal van hierdie bakkies gekoop het om hulle noodsaaklike "toerusting" te stoor nie. Wat my laat dink dat hierdie bakkie ook by jagters aftrek gaan vind!

    Waarskynlik net so belangrik as die Ranger bakkies is die reeks Focus sedans.

    Met die Ford Focus-reeks het Ford ook 'n reeks warm mededingers, van gewone modelle tot by die ST verrigtingsmodelle wat motorsportentoesiaste gaande het.

    Die skel-oranje waarin die ST-modelle beskikbaar is, jaag menige se adrenalienvlakke op net by aanskoue van die motor, wat jy nie kan miskyk nie!

    Vir diegene wat miskien nog mag twyfel oor die inherente kwaliteit van Ford voertuie teenoor die "gesofistikeerde" Europese modelle, kan 'n mens net daarop let dat die Volvo S40 dieselfde onderstel en komponente as die Ford Focus deel.

    Hoewel die ST een van die topmotors in sy klas is, is dit egter die Focus 1 997 cc TDCi turbodiesels wat my persoonlik aangryp; veral waar brandstofpryse nou heeltemal op loop sit en die man op straat meer en meer na brandstof-ekonomie kyk as iets anders. Toegegee, 'n mens sal baie ver moet ry voordat die hoër aankoopprys van die turbodiesel, gebalanseer deur die beter brandstofverbruik, hom lonend maak. Maar daar is eenvoudig daardie uitstekende wringkrag van turbodiesels wat altyd daar is as jy dit nodig het. Die TDCi versnel van 0-100 km in 'n raps meer as nege sekondes en kan volgens 'n toonaangewende Duitse motortydskrif 'n ware 203 km/h op gelyk pad behaal.

    Dieselfde tydskrif gee ook 'n gemiddelde verbruik van 5,5 liter/100 km; of hulle norme egter dieselfde as ons s'n is, is nie bekend nie. Maar so 'n lae verbruik is myns insiens nie vergesog nie en met 'n tenkinhoud van 55 liter sal 'n mens baie ver kan ry. Geen wonder dat die Focus in Duitsland Ford se model is wat die beste verkoop nie.

    As die Duitsers Ford 'n kans gee, is dit miskien die moeite werd om weer met nuwe oë na die produk te kyk!




    Back to top     Back to top

    © Tel. (021) 853-0211 Fax. (021) 853-0234

    2003 Somerset Press (Pty) Ltd on all information and photographs.