AFGESIEN van die seisoenskleur wat dit bied, kan houers as fokuspunt gebruik word, eentonige geplaveide areas interessanter maak of onooglikhede wegsteek.
Dit kan gebruik word waar wortelkompetisie tuinmaak belemmer, of vir plante met spesifieke grondvereistes, byvoorbeeld suurliewende plante soos asaleas en blou krismisrose.Enigiets kan as 'n houer gebruik word mits dit 'n wortelmedium kan bevat en voldoende dreinering bied. Plante in houers benodig voldoende dreinering, 'n geskikte groeimedium of grondmengsel, gereelde water asook aanvullende voeding.
Plaas stukkies van 'n gebreekte pot oor die dreineringsgate, met 'n laag growwe gruis bo-oor en dan growwe riviersand. Plaas houers op stene of wigte.Tuingrond is nie geskik vir houers nie aangesien dit nie voldoende voedingstowwe bevat om plante vir 'n lang tyd aan die gang te hou nie, en dreineer óf nie goed genoeg nie (sodat die plant versuip) óf so goed dat te min water behou word vir groei. Verbeter die grond met organiese produkte soos been- of hoef-en-horingmeel, of kompos, kraalmis en kunsmis wat stadig vrygestel word.
Sakke spesiaal geformuleerde kommersiële potgrond is ideaal vir die besige tuinier. Dit bevat genoeg bas en kompos en dreineer goed. As dit nie verryk is met kunsmis wat stadig vrygestel word en organiese bemesting soos been- en hoef-en-horingmeel nie, moet jy dit eers byvoeg voor jy jou houers volmaak. Die grond in houers moet periodiek vervang word. Skraap van die grond af en vervang met 'n deklaag, of herpot die plant. Om te herpot, haal die plant uit en verwyder 'n gedeelte van die grond om die wortelbal, veral waar die wortels saamgekoek is. Herplant in dieselfde houer of in 'n houer wat net groter is. Om die waterretensie van die grond in potte of hangmandjies te verbeter, moet jy waterhoudende kristalle of gemaalde kelp daarby meng. (Bron: Tuinmaak in Suid-Afrika Deur die Jaar, Marianne Alexander, Struik).