JANUARIE is tradisioneel die tyd vir nuwejaarsvoornemens en as tuinier geld dit nie net vir jou persoonlike lewe nie, maar ook vir jou tuin. Dit is die ideale tyd om jou tuin goed te bekyk en te dink aan oplossings vir probleme wat tydens die vorige jaar opgeduik het, en ook om jou houding teenoor tuinmaak weer in oënskou te neem.
Januarie, met sy lang, sonnige dae, word beskou as midsomer. Dit is wanneer die laaste vroegsomerse kleur van beddingplante, jaarplante, struike en rankplante wyk voor die geharde, dikwels helderkleurige somer-blomme en loofplante wat die hitte kan weerstaan en die tuin tot in die herfs deursien.
Wat die blomtuin betref, kan beddingplante elke twee weke blaarvoeding gegee word om hul blomtyd te verleng.
Vul openinge met saailinge of vinnig groeiende jaarplante soos kosmos, Alyssum, gousblomme en Ageratum vir kleur tydens die laat somer tot vroeë herfs. Plant saailinge saans wanneer dit koeler is, maak goed nat en beskerm vir 'n paar dae teen slakke, die son en wind met kartontentjies of blaretakkies.
Verjong petunias asook Salvia en Nicotiana wat langbenig is deur hulle terug te sny en 'n deklaag en bemesting te gee om 'n tweede groeifase en blomme vir laat somer aan te moedig.
Plant bolle van Amaryllis belladonna (Maartlelie) sodra hulle beskikbaar is, met die nekke bo grondvlak. Verdeel en herplant wit aronskelke wat te dig opmekaar staan as hulle begin uitsterf; lig hele klompe uit (elke stuk wortel wat in die grond agterbly, sal tot 'n nuwe plant ontwikkel) en verdeel op 'n vel plastiek. Plant enige klein plantjies op die ou blomstingels van daglelies en Dietes uit. Bemes Lilium-plante en sny verwelkte blomkoppe af, maar los soveel moontlik van die blaargroei om voedsel te vervaardig vir die volgende jaar se bolle.
Knyp die groeipunte van krisante wat vanuit houers in die tuin oorgeplant is. Dit verseker bosvormige groei en massas blomme. Sny die blomstele van delfiniums terug.
Verdeel hierdie maand irisse wat te dig groei as jy dit nog nie gedoen het nie. Sny slordige wilde-rabarber (Acanthus) terug.
Bemes rose met kunsmis of verrykte organiese bemesting ryk aan kalium om verdere blomme aan te moedig. Snoei liggies na die einde van die maand; verwyder swak, siek, rankerige en onproduktiewe takke. Sny blomstele af tot by 'n knop wat na buite wys in die oksels van die eerste blaar met vyf klein blaartjies, sodat die middel van die struik oop bly.
Sny grasperke gereeld sodat die gras ongeveer 5 cm lank bly. Vir 'n sterk, gesonde grasperk met 'n goeie wortelstelsel moet 'n gebalanseerde kunsmis (5:1:5, 3:1:5 of 2:3:4) of 'n organiese ekwivalent in die middel van die maand toegedien word en goed natgemaak word.
Sorg dat alle beddings 'n goeie deklaag het om vog te bewaar en te verhoed dat onkruidsaad ontkiem.
Namate struike en bome hul midsomergroeifase binnegaan, moet hulle die tweede bemesting van die seisoen kry. Gee een of twee hande vol van 'n algemene, gebalanseerde korrelkunsmis soos 2:3:2 of een geskik vir die grond in jou area. Strooi dit op die grond onder gevestigde struike en rankplante, tussen jaarplante en op die drupsirkel van bome. Gee veral aandag aan plante soos asaleas, Vibernum opulus, en Raphiolepsis wat nou die lote maak waarop nuwe blomme gevorm sal word. Bemes plante wat in die herfs blom, soos Japanse anemone, meerjarige floksies en delfiniums.
Sny fuchsias reg en gebruik die steggies om nuwe plante in miniatuurkweekhuise van omgekeerde plastiekbottels te kweek.
Verwyder ou en verlepte krismisrose, tensy hulle vir herfskleur behou moet word, en sny tot teen die eerste gesonde groeiknoppe. Sny ou, houterige stingels tot onder af as jy hulle liggies wil snoei; dit moedig nuwe basale groei aan. Verwyder die gladde, sagte, rooibruin waterlote aan die basis van bougainvilleas sodra hulle verskyn en snoei struike wat in die vroeë somer blom en nie in Desember gesnoei is nie, liggies.
Wat huisplante betref, kan houers wat tydens die Kersfeestyd uitgedroog het, oornag geweek word om die grond met vog te versadig.
Saai broccoli, blomkool, kopkool en Brusselse spruite in saadkissies. Maak klein aanplantings van geelwortels, beet, radyse en hittebestande blaarslaai. Saai die laaste jong murgpampoentjies, boontjies, kolwyntjiepanskorsies of lemoenpampoentjies om op 'n jong stadium te oes.
Daar is nog tyd om basieliekruid, komkommerkruid, pietersielie, kerwil en dille in die kruietuin te saai of om steggies van salie, tiemie, marjolein, dragon en roosmaryn te maak.
Gee bladwisselende vrugtebome 'n somersnoei deur die sterk takke naby die bopunt van die boom wat skadu oor die middel werp, af te sny en bemes.
Spat lokaas op die blare van bome wat nog vrugte het om vrugtevlieg te lok en dood te maak.
Gee druiwe minder water namate die vrugte ryp word en oes eers wanneer die trosse heeltemal ryp is. Beskerm teen voëls met netsakkies of probeer die voëls verjaag met repe foelie of plastiek. Bemes met stikstof kunsmis.
(Bron: Tuinmaak in Suid-Afrika deur die jaar deur Marianne Alexander.)