Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake | Finansies & Tegniek | LandbouWeekblad |
Huisgenoot
| Dit | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
 

Helderberg
Front Page
News
  • Local
  • Business
  • Sport/Angling
  • Real Estate
  • Entertainment
  • Business Index
    Classifieds
    Forum
    Photo Gallery
    Tourism
  • Maps
  • Helderberg Info
    Lifestyle
  • Motoring
  • Gardening
  • Features
  • Contact Us
    News24
    Smalls24
     
    About Us Search Advertising
      Brought to you by:

    24/07/2008 02:13 PM - (SA)
    Strijdom laat historiese eike met rooi aandrokke dans
    250709


    'n LESER van DistriksPos bel uit Gordonsbaai en vra hoekom daar rooi lappe om die eikebome in Stellenbosch se Dorpstraat gedraai is. Sy wonder of dit stout studente is en of die koerant tog nie wil uitvind en die raaisel vir lesers oplos nie?

    Nee, dis nie stout studente nie, vertel Daniël Lutz: Voorsitter, Dorpstraat Ontwikkelingstrust. Hy sê hierdie tyd van die jaar het Stellenbosch blaarlose bome en pragtige dae. Jy kan dus al die histories-ryke geboue aanskou sonder belemmernis. Daarom het die Dorpstraat Ontwikkelingstrust besluit om Dorpstraat deur kuns aan die wêreld bekend te stel.

    Strijdom van der Merwe, wêreldbekende landkunstenaar, het ingestem om die straat vir een maand in dié kunswerk te omskep en jy kan sy handewerk tot 3 Augustus nog besigtig.

    Dit is die grootste landskapskunswerk wat Strijdom al ooit uitgevoer het. "Dorpstraat in Stellenbosch [1679] - die oudste dorp in Suid-Afrika - is volgens ons inligting die oudste openbare pad na die binneland. Argitektonies bied Dorpstraat 'n verskeidenheid van boustyle bv. Kaaps-Hollands, Kaaps-Frans, Kaaps-Georgiaans, Victoriaans en Art Deco," sê Daniël. Strijdom, geen vreemdeling vir Helderbergse kunsliefhebbers nie, was in 1998 deel van die Helderberg Kunstefees-uitstalling, en was onder meer al die amptelike feeskunstenaar vir die KKNK en het verlede jaar die erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang - een van die grootste eerbetone van sy lewe, vertel hy een middag op Stellenbosch aan my.

    Die teerpad is nat, die son blink silwer op die waterdruppels van dae se reën wat nog aan die kaal takke van die historiese eikebome hang. Rooi lappe is soos verruklike aandrokke om die stamme van die bome gedraai en met die speelse windjie wil-wil die takke hande vat en dans.

    Ons sit hoog bo in Dorpstraat by die Eendracht Boetiekhotel. Aan die een kant die besige Dorpstraat met sy 393 toegedraaide verklaarde eikebome en aan die ander kant loer die Moederkerktoring skelm oor die nokke van spierwit geboue. Die toedraaiery het bykans agt kilometer rooi materiaal geverg, vertel hy.

    "Die bome is siek en oud en nasionale gedenkwaardighede en die rooi lap daarom bring vir elkeen wat dit sien, 'n ander betekenis." Strijdom vertel dat hy na hy sy voorlegging aan die Trust gedoen het, eers by die munisipaliteit en 'n boomdokter moes verbykom. "Die bome moet ongehinderd wees, die materiaal moet kan asemhaal en ek moes dink aan die eekhorings ook," lag hy. Twaalf werkers het hom gehelp met die reuse-taak wat oor 1,6 km strek en dit het hulle drie volle dae geneem om te voltooi.

    Elke nou en dan as 'n reënbui uitsak, word die materiaal swaarder en sak soms af, dan gaan trek hy weer die lap reg.

    Strijdom het al regoor die wêreld sy landskapkuns beoefen, in eksotiese stede op uitnodiging met net natuurlike elemente kunswerke opgetower en sy CV vertel van vele toekennings, werkswinkels en uitstallings waar mense meer van die kunsvorm wil leer of net wil toelaat dat hy sy verbeelding op Moeder Natuur gebruik.

    Hy het Kuns op Stellenbosch studeer en ook in Utrecht, Holland, Praag en die Tsjeggiese Republiek sy nering gaan slyp en was onder meer kunsdosent tot hy in 1996 sy aandag voltyds op kuns fokus. "Dis soms maar moeilik, want mens se rekeninge vra nie of jy 'n goeie uitstalling gehad het nie, maar ek verruil 'n voltydse kunsloopbaan vir niks nie," vertel hy. Hy wy die helfte van sy tyd aan die skepping van kuns en die ander tyd om geleenthede raak te sien of te skep.

    Die hele ding van 'n landkunstenaar is dat jy in die natuur werk, dat jy deel voel van die siklus en dis lekkerder om iets te maak uit die rou produkte en kunsdoek wat Moeder Natuur vir jou gee, as om kunsmatige goed in te bring. Alhoewel my kunsvorm soms net vir enkele minute bestaan, dokumenteer ek alles met my kamera, maar ek laat eerder die permanensie van my kuns in mense se koppe agterbly. Dis soos 'n fliek wat jy kyk - jy hou dit nie noodwendig altyd nie, dis vlietend, maar die boodskap bly jou by," vertel hy.

    Strijdom sê dis vir hom lekker om byvoorbeeld 'n kunswerk onder die hoogwatermerk op die strand te maak en as die hooggety kom, begin speel die natuur 'n rol en maak iets met die kunswerk wat die kunstenaar nooit sou kon nie.

    Ek kry my inspirasie uit alledaagshede, soos as die werkers strepe op die pad verf en ek patrone daarin raaksien. Nie lank daarna nie, maak ek sulke patrone in die Karoosand teen 'n heuwel of op een of ander strand. Die Karoo bly my beste kunsdoek," sê hy.

    Elke jaar gaan die Trust 'n ander kunstenaar of medium kies om kuns in Dorpstraat te vier. Aansoeke deur kunstenaars word reeds ontvang vir die Julie 2009 projek.

    Kontak Daniël by danieljlutz@iafrica.com vir meer inligting. Eenvoud: Een van Strijdom se werke in die Karoo. Landkunstenaar Strijdom van der Merwe, wat geen vreemdeling vir Helderberg se kunsliefhebbers is nie en links bo is die toegedraaide eikebome.




    Back to top     Back to top

    © Tel. (021) 853-0211 Fax. (021) 853-0234

    2003 Somerset Press (Pty) Ltd on all information and photographs.