|
|
|
29/05/2008 03:14 PM - (SA)
Regering het alle inwoners gefaal
Vaaljas skryf:
 |
|
 |
Die HAT definieer rassisme as die veronderstelling dat karakter en bekwaamheid bepaal word deur ras; n denkrigting wat aanneem dat n besondere ras meerderwaardig is en die reg het om ander rasse te oorheers.
Visser se inleidende stelling, xenofobie = vreemdelingehaat = swart op swart rassisme en sy slotwoorde ek is nie skaam om n rassis genoem te word nie. God het my n witmens geskape en ek vra vir niemand verskoning daarvoor nie. Die vierkleur sal weer wapper dui aan dat hy nie sy verstand aangewend het by die formulering van gedagtes nie.
Die huidige swart-op-swart geweld is gewoon te wyte aan die regering se nalate om grensbeheer toe te pas en die gevolglike frustrasie van die armstes van die armes wat met vreemdelinge in hul eie land moet meeding om skaars werkgeleenthede en behuising. Natuurlik sal die regering dit ontken en gewaande derde magte blameer - die ANC regering is diep in die morele skuld by ons buurlande vir die huisvesting en werkgeleenthede wat aan die ou exiles en freedom fighters gegun is in die apartheidsjare. Vandaar die laksheid om grensbeheer toe te pas. Dit verg dus min logika om te besef jeens buitelandse swartes slegs die simptome is - die siekte is die wanhoop en frustrasie van die armes wat ontstaan het uit hoofde van die regering se nalate om te regeer!
Die voorspelling dat die vierkleur weer sal wapper, het hopelik nou al gewoon net Visser se geykte afsluitingsversie geword, want as voorspelling sê dit nie veel van die betrokke siener se vermoëns nie. Geloofwaardige voorspellings is veronderstel om op objektiewe inligting gegrond te wees en nie op wense nie.
As die vierkleur werklik eendag weer in Visser se Lotusland sou wapper, sal dit nogal interessant wees om die funksionering daarvan waar te neem. Indien sy regering dan almal rassiste is, wie gaan hulle oorheers? Mekaar? En boonop sal die paar honderd landgenote nie vir mekaar ekskuus hoef te sê nie.
Indien Visser n rassis wil wees, is dit sy reg om dit te wees en ook so te sê. Om dit egter te vergoeilik, is laakbaar. Hy skaam hom kennelik nie, dog om dit te verdedig deur sy Godgeskapenheid as witmens voor te hou as motivering, is belaglik. Sy geskapenheid as witmens was allermins opsioneel en of hy nou verskoning daarvoor sou aanteken of nie, maak geen snars verskil nie.
Dat hy hom verlekker in die feit dat swart vreemdelinge nou die teiken is van geweld en vir n verandering nie wittes nie, is n tragiese skande. Geweld in alle vorme moet uitgeroei word. Die regering het al die inwoners van hierdie land gefaal, nie net vir BG Visser nie.
My advies aan BG Visser is om sy selfbejammering en versugting na herryse rassisme te staak, en sy energie en verstand aan te wend om ons land se probleme te help oplos. Die vaders van apartheid en rassisme is dood of in exile - wees proaktief.
 |
Na bo
|
© 2000 Carletonville Herald - alle regte voorbehou. |
|
 |