|
|
|
16/05/2008 09:39 AM - (SA)
Veertiende roof eis lewe
Magda Martins
 |
|
 |
Mnr. Simon Makgobathe (34) is tydens n rooftog by die N12 Convenient Shop by die Engen-vulstasie by die N12-kruising op pad Fochville toe, doodgeskiet.
Vier onbekende mans het die winkel Sondagoggend omstreeks 03:15 binnegegaan en vuurwapens op die twee kassiere en veiligheidswag, Makgobathe, gerig. Daar was ook drie petroljoggies buite, sê supt. Louis Jacobs, provinsiale polisiewoordvoerder.
Die een kassiere, n vrou, is met n wapen gedwing om onder n tafel te sit.
Die wag wou hom teësit en is geskiet.
Die rowers het met n onbekende bedrag kontant gevlug.
n Kwartier later het hulle by die BP-vulstasie op die N12 gestop. Een van die rowers het die petroljoggie met n vuurwapen aangehou en sigarette gesteel.
Daarna het hulle op die vlug geslaan.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Volgens me. Engela van der Merwe, mede-eienaar van die kafee, is dit reeds die veertiende rooftog by dié kafee. Dit is egter die eerste keer wat iemand doodgeskiet is.
Sy was ook reeds twee keer in die winkel toe rowers hulle met wapens aangehou het.
Daar is niks wat ons kan doen nie. Dit het so deel van ons lewe geword om altyd op die uitkyk te wees, maar n mens kan nie dié dinge keer nie.
Makgobathe werk reeds van 2001 by die vulstasie en winkel. Hy kom oorspronklik van Pietersburg. Sy vrou en sewe maande oue baba woon in Klerksdorp.
 |
Na bo
|
© 2000 Carletonville Herald - alle regte voorbehou. |
|
 |