HELOUISE FRYLINCK, behulpsame senior adminis?tra?tiewe klerk by die Stellenbosch Polisiediens, verlaat die SAPD ná sowat 17 jaar.
Helouise was hoofsaaklik verantwoordelik vir die administrasie aangaande botsings in Stellenbosch, asook die hantering van alle prokureurs- en assuransienavrae.
Sy het informeel bekend gestaan as die adjunk-inligtingsbeampte van Stel?len?bosch.
Helouise het op 30 September 1991 by die Stellenbosch SAPD as administratiewe klerk begin werk. Deur die jare het sy goeie verhoudings met die publiek opgebou en het sy hul belange altyd eerste probeer stel.
Haar kollegas en kennisse het haar gerespekteer vir haar profes?sionele optrede en die kwaliteitdiens wat sy gelewer het.
Helouise was die voorsitter van die Christelike Polisievereniging en het in verskeie komitees van SAPD Stellenbosch gedien.
'Ons kon altyd op haar knoppie druk. Stellenbosch is baie na aan haar hart en 'n mens kon dit in haar benadering tot haar werk en in alles wat sy aangepak het, sien,' het een van haar kollegas aan Eikestadnuus gesê.
'Stellenbosch is 'n intieme hoofstuk in my lewe en my ervaringe hier sal altyd gekoester word. Hier het ek vriende gemaak en ook kollegas en vriende aan die dood afgestaan.
'In die Polisiediens het ek 'n ander sy van die lewe leer ken en dit het my 'n sterker en wyser mens gemaak. Ek dank die Here elke dag vir dié werksgeleentheid en om deel te kon wees van die polisie-familie op Stellenbosch.
'Ek gaan my kollegas en vriende baie mis,' het sy gesê.
Helouise se lewe begin nou 'n nuwe hoofstuk by die Stellenbosse firma, Alexander Forbes.
'Helouise was 'n groot steunpilaar by Stellenbosch SAPD. Die polisie se verlies is 'n groot wins vir Alexander Forbes,' het kapt. René Matthee, die woordvoerder van die Stellenbosch SAPD gesê.