DIE Wes-Kaap is 'n lekker plek om in te woon, en des te méér nog Stellenbosch.
Volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR) se nuwe verslag, State of the Province, is die Wes-Kaap loshande die beste provinsie in die land wat die ekonomie, onderwys en gesondheid betref. Dit is ook die gewildste plek om in te woon, aangesien dié provinsie die grootste aantal huise het.
Maar die misdaadorgie van die afgelope langnaweek in Stellenbosch toon dinge aan 't verander, en die gemeenskap sal moet saamstaan om probleme die hoof te bied.
Die SAIRR-verslag stel dit duidelik dat die Wes-Kaap die voorste plek in die land beklee wanneer dit by misdaad kom. Die meeste moorde en huisbrake kom híér voor, en gevalle van geweldsmisdade groei ook vinniger híér as in die res van die land. Hulle waarsku ook dat geweldsmisdaad vinnig besig is om te beweeg na plekke soos Stellenbosch.
Dít, ten spyte daarvan dat die Wes-Kaap die meeste polisielede per capita in die land het.
Waar lê die fout dan? Mense is gou om die polisie te blameer, meesal omrede hulle nie sigbaar genoeg is en op die oog af nie streng genoeg optree nie.
Die polisie het die publiek se hulp nodig in hul stryd teen misdaad. Om inwoners se samewerking te kry, moet die polisie egter die publiek in hul vertroue te neem. Hulle moet Stellenbossers deeglik op die hoogte hou van misdaadstatistiek en -tendense.
Tans maak die owerhede dit egter bitter moeilik om misdaadstatistiek te bekom. Indien die polisie die publiek se samewerking verlang in die stryd teen misdaad, moet ons weet hoe sterk of hoe groot ons ?opposisie? werklik is.
Stellenbosch word toenemend 'n paradys vir inbrekers wat links en regs huise binneval en buitmaak met waardevolle besittings.
Baie inwoners is egter al so sat vir misdaad, en ander het so min vertroue in die polisie se vermoë om op te tree, dat hulle dit nie die moeite werd ag om hul sake eers aan te meld nie. Hulle voel die polisie gee nie om nie. Hulle voel ook die polisie is nie oop en eerlik met hulle nie.
Stellenbosch is steeds 'n betreklik veilige plek om in te woon. Maar om dié besondere dorp te beveilig vir ál sy mense, sal die polisie en Jan Publiek op gelyke voet moet hande vat.