DIE donateurs van die Bloemhofsentrum is op onlangs met 'n stylvolle skemeronthaal bederf.
Die geleentheid is deur die beheerliggaam van die skool in die Bloemhofklubhuis aangebied.
Me. Sanette Nowers, die skoolhoof van Hoër Meisieskool Bloemhof, het bevestig dat die oprigting van dié multi-funk?sionele sentrum die verwesenliking van 'n droom is wat die skool en beheerliggaam sedert 2005 gekoester het. Sy het gesê dis verstommend dat 'n finansiële en ouergemeenskap saam kon staan om 'n R13 miljoen-projek tot stand te bring. Dit is die grootste projek ooit wat met eie fondse deur 'n skool van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement aangepak is.
'n Begeleide toer van die sentrum is deur mnr. David Ludditt, projekbestuurder van Abacus Asset Management, aangebied. Dit was opvallend dat die sowat 50 gaste nie uitgepraat kon raak oor die skaal van die gebou nie.
Die verhoog is groter as dié van die operahuis van die Kunstekaap, terwyl die multi-funksionele sportvloer baie verhuringsmoontlikhede bied.
Die Bloemhofsentrum sal, na verneem word, 'n noodsaaklike plaaslike rol speel by die aanbied van konferensies en sportgeleenthede in die aanloop tot 2010.
Die imposante foyer en onthaallokaal met glasvensters wat 'n uitsig bied op die sentrumvloer, laat dit allermins na 'n skoolsaal lyk. Deure agter die verhoog is groot genoeg om 'n vragmotor deur te laat sodat dekor en rekwisiete vir verhoogproduksies afgelaai kan word.
Die nuwe dramalokaal en drie nuwe musiekkamers is van uitnemende gehalte en sal Bloemhof in staat stel om sy kunsdepartement verder uit te bou.
Konstruksiewerk sal teen volgende maand afgehandel wees. Daarna sal die sentrum volledig toegerus word om dit 'n ware sentrum vir almal te maak.