DAAR is 'n ou Joodse gesegde wat lui: as die armes teen betaling in die plek van die rykes kon sterf, sou die armes 'n goeie lewe daaruit kon maak.
Miskien sit ons met ?n soortgelyke mamparadoks in Suid-Afrika oor die manier waarop die regering maatskaplike geregtigheid vir die swart burgers in ons land wil bewerkstellig.
Ons President se aandrang daarop dat ons 'n twee nasie- land is ? 'n arm swarte en ?n ryk witte ? en dat ekonomiese geregtigheid net bewerkstellig kan word wanneer hierdie rasseongelykheid totaal uitgewis is, plaas sommige van ons swart medeburgers in die benydenswaardige posisie dat hulle kan ryk word uit die behoud van hul status as armlastiges.
Dit kan dalk nog vorentoe gebeur dat van hierdie swart newly rich daarop kan aandring dat armlastigheid vir hulle tot 'n onvervreembare reg verhef word.
Dit sal verseker dat hulle arm bly al word hulle hoe ryk. Só bly voortgesette armoede vir hulle 'n waarborg van die vooruitsig van voortgesette rykdom.
Hoe werk so 'n besigheid?
Wel, is dit dan nie 'n vertrekpunt van ons regering se siening van maatskaplike geregtigheid dat geregtigheid net verwesenlik kan word as dié wat nou armlastig is, eendag meer welaf gaan wees, en dié wat nou so onverdiend smul aan die vruggies van die vlees, se kierang eendag lekker gaan uitbraai nie?
After all, as swart landsburgers nou al weet dat die armoede wat hulle verduur, vergoed gaan word met 'n goed bedeelde toekoms, dan behoort hulle mos, in hierdie wete, hul huidige swaarkry te verreken teen die vooruitsig van toekomstige welle?wend?heid.
Inderwaarheid versterk groter armlastigheid in die hede juis hul aanspraak op die gawes van die geregtigheid wat hulle kan verwag as hulle eendag van aangesig tot aangesig kom met die bedeling wat Mbeki vir hulle berei. Die armes gaan mos die aarde beërwe, of hoe?
Maar is die swart newly rich nie ?n bietjie haastig om hul erfporsies op te eis nie? Diskwalifiseer rykdom in die hede hulle nie as toekomstige ontvangers van die gawes van geregtigheid nie? Gaan die huidige lekkervreters se kierang dan nie braai in 'n toekomstige regverdige bedeling nie?
Onthou: haastige hond verbrand sy mond.
Wat staan ons arme swart burgers te doen? Dit lyk of die belofte dat ekonomiese geregtigheid sal geskied, alleenlik maar vir dié van hulle wat glo dat dit vals is, waar kan wees.
Vir dié wat glo dat dit waar is dat geregtigheid sal geskied, het geregtigheid al klaar geskied.