VYF Stellenbossers tel vanjaar onder die bekroondes van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 'n Postuumtoekenning gaan ook gemaak word aan wyle prof. Johan Combrink.
Die pryse sal by 'n bekroningsplegtigheid op Donderdag, 2 Oktober op Stellenbosch aan hulle oorhandig word.
Die driejaarlikse Gustav Prellerprys vir literatuurwetenskaplike werk in Afrikaans, insluitend letterkundige kritiek, word toegeken aan prof. Johan P. Smuts, emeritus professor van die US se departement Afrikaans en Nederlands.
As lid en sekretaris van die Taalkommissie sedert 1995, deel dr. Frikkie Lombard in die C.J. Langenhovenprys vir Taalwetenskap wat aan die Taalkommissie toegeken word vir die negende, verbeterde en omvattend herbewerkte uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls wat in September 2002 verskyn het. Die prys is driejaarliks beskikbaar vir taalwetenskaplike en/of taalskeppende werk in Afrikaans, met inbegrip van leksikografie. Dr. Lombard is die eindredakteur van die Buro van die WAT.
'n Postuumtoekenning word ook gemaak aan die vorige voorsitter van die Taalkommissie, prof. Johan Combrink.
Die N.P. van Wyk Louw-medalje vir skeppende bydraes tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die geesteswetenskappe, word aan dr. J.C. Kannemeyer toegeken vir sy skeppende werk oor 'n terrein breër as een enkele vakgebied wat hy steeds bevorder en ontwikkel. "Danksy Kannemeyer se werk is ons kennis en insigte in belangrike aspekte van die Afrikaanse kultuurgeskiedenis tans op 'n hoër vlak as wat dit teen die begin van die jare tagtig was," lui die commendatio.
Mnr. Johann Rupert is die ontvanger van die Frans du Toit-medalje vir Bedryfsleiding. Die medalje word toegeken aan 'n kandidaat vir sy skeppende bydrae tot die Suid-Afrikaanse bedryfslewe, sy volgehoue uitbouing oor 'n lang tydperk van die terreine waarop hy hom begewe het, vir sy leierskap op die bepaalde terreine en vir die besieling wat daar van hom uitgegaan het om die gebiede verder te ontwikkel.
'n Erepenning vir die bevordering van geskiedenis as dissipline word toegeken aan prof. P.H. Kapp, emeritus professor van die US se departement Geskiedenis. Prof. Kapp is tans besoekende navorsingsgenoot van die departement Geskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat.
Die Elisabeth Eybersbeurs wat jaarliks beskikbaar is aan Suid-Afrikaanse of Nederlandse/Vlaamse nagraadse studente, dosente en navorsers in Afrikaans of Nederlands om die taal- en kultuurbande tussen die twee lande te bevorder en te versterk, gaan aan dr. Gerhard (G.B.) van Huyssteen van die Skool vir Tale aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO.