MEER as die helfte van al Stellenbosch se leerlinge gebruik die dwelm tik, glo die polisie.
Die vlaag tikgebruik word as 'n "dwelm-tsoenami" beskryf wat glo kinders van so jonk as 12 jaar insluk.
"Ouers moet die werklikheid besef. Dit is h?l kinders wat dit gebruik; kinders oor die hele spektrum. Tik ken nie velkleur, finansiële agtergrond of ligging nie," het insp. Bernard Adams van die Cloetesville-polisie gesê.
"Ons skat tussen 50 en 60% van Stellenbosch se skoolkinders gebruik reeds die dwelm."
Adams het beklemtoon dat hulle van tikgevalle by ál die dorp se skole weet, en dat mense moet ophou om die probleem onder 'n ander se mat te vee.
Só erg is tikgebruik nou al in die dorp, dat nuwe dwelm-ondersteuningsnetwerke op die been gebring word.
Die polisie het vandeesweek die Plaaslike Dwelmaksie Komitee (LDAC), 'n inisiatief van die Wes-Kaapse regering, gestig om die dwelmverbruik in Stellenbosch en die omliggende gebiede te beveg.
Eersdaags gaan Recovering Addicts/Alcoholics Empowering Lives (Rael) ? 'n onafhanklike ondersteuningsnetwerk in Kaapstad en Somerset-Wes ? ook 'n basis op Stellenbosch vestig.
Mnr. Anthony Hall, stigter van Rael, het vroeër dié week aan Eikestadnuus gesê hulle word oorval deur Stellenbosse verslaafdes wat om hulp vra.
"Stellenbosch sukkel geweldig met verslawing, veral aan tik, en daar is baie mense wat hulp benodig,? het Hall gesê.
Volgens mnr. Don Maxwell, voorsitter van die Valley Farms Association, gaan die plase in veral die Devonvallei-area gebuk onder tikverbruik deur veral kinders.
"Kinders so jonk as 12 raak nou al verslaaf aan die vuilgoed. Dit is skokkend," sê hy.
Die afvalhope en skole is volgens Maxwell waar die meeste van die dwelms vandaan kom.
"Dit wil voorkom of die tik-verspreiding van Jamestown se kant af kom," sê Maxwell.
Hy meen die enigste manier om toenemende dwelmmisbruik te bekamp, is om by die handelaars uit te kom.
Raadslid Johannie Serdyn het gesê dwelmaktiwiteite by Jamestown se skole het afgeneem, maar dit steek weer by Onder-Papegaaiberg kop uit.
"Ons het 'n probleem met die tieners wat in die bosse naby die fietsrybaan dwelms kom gebruik," sê sy.
Volgens die polisie het tikverbruik in Stellenbosch sedert 2004 soos 'n veldbrand versprei. Dit word ook direk met misdaad verbind.
"Die meeste van die misdade wat ons teëkom, word deur tik gedryf," sê Adams.