MNR. en me. Jan en Juanita Lotz, die ouers van die vermoorde Matie, Inge Lotz, sê hulle het afgekom op nuwe inligting wat Fred van der Vyfer impliseer in die moord op hul dogter."Tydens die uiteensetting van die siviele saak teen mnr. Van der Vyfer het nuwe inligting na vore gekom wat ons in ons saak gaan gebruik," sê me. Dani Cohen, die Lotze se woordvoerder.
Intussen het Van der Vyfer eergister bekend gemaak dat hy die minister van Veiligheid en Sekuriteit vir R35 miljoen dagvaar.
Van der Vyfer? meen hierdie bedrag behels sy verlies aan toekomstige inkomste. Hy voer aan dat hy nie sy aktuariële kwalifikasie kon voltooi nie weens die moordsaak wat sy studies ontwrig het. Sy totale eis teen die staat staan nou op R46 miljoen.
Lotz is in 2005 vermoor. In November verlede jaar is Van der Vyfer deur die Kaapse Hooggeregshof onskuldig bevind. Cohen wou egter nie sê wat die Lotze se nuwe inligting behels nie.
Van der Vyfer se regspan, gelei deur adv. Dup de Bruyn, het vandeesweek die nuwe inligting aangevra om sy kliënt? se verdediging voor te berei.
Cohen sê hoewel Du Bruyn en sy span vir al die inligting sal vra, daar 'n moontlikheid is dat hulle nie alles hoef te oorhandig nie. "Ons sal moet kyk wat die wet sê. Omdat dit nou ?n siviele klag is teen (Van der Vyfer), en nie 'n kriminele klag nie, hoef ons nie alles te oorhandig nie.?
Mnr. Louis van der Vyfer, Fred se pa, het gesê hy wil nie kommentaar lewer oor die jongste bewerings nie.
Die Lotze het op 14 Maart 'n siviele klag teen Van der Vyfer ingedien en dagvaar hul dogter se voormalige kêrel nou vir R8,5 miljoen.
Hulle voer aan dat hulle finansieel, emosioneel en medies skade gely het as gevolg van die moordsaak.