KRAAIFONTEIN se senior rugbyspan het ’n massiewe oorwinning van 100-7 oor Strand United behaal en terselfdertyd ’n treetjie nader aan die titel in die B-afdeling van die WP se Superliga gegee.
Die Kraaie, wat die komende naweek hul wedstrydprogram vir die seisoen voltooi met ’n wedstryd teen Goodwood, sal met ’n bonuspunt-oorwinning op 65 punte op die punteleer eindig. En daarmee sal geen ander span hom kan verbysteek nie.
Drie spanne het nog ’n geringe buitekans om Kraaifontein te troef. Bellville-Tech (54, twee wedstryde oor), Kuilsrivier (50, drie wedstryde oor) en Pniël Villagers (48, drie wedstryde oor) sal die Kraaie slegs kan verbysteek as hulle goeie oorwinnings bly behaal én as Kraaifontein in sy laaste kragmeting vasval.
Kraaifontein het Strand United Saterdag behoorlik afgeslag. Met die 17 drieë wat die Kraaie gedruk het, is net ses in doele omskep. Indien die stelskopwerk beter was, kon hul oorwinning selfs veel groter gewees het!
Kuilsrivier se aanspraak op die titel het ’n groot knou gekry toe hy Saterdag 21-25 teen Collegians vasgeval het.
Bellville-Tech bly egter in die wedloop nadat hy Primrose 21-10 getroef het.
Goodwood het 16-25 teen Young Peoples vasgeval.
In die A-afdeling van die Superliga het Durbanville-Bellville ’n tweede keer hierdie seisoen met die Ikeys afgereken. Die Durbies het 18-14 gewen.
Tygerberg-klub het die sterk span van Hamiltons aanvanklik mooi in toom gehou, maar ongelukkig het die skaflike rustyd-agterstand van 10-21 uiteindelik uitgeloop op ’n drag slae van 61-10.
Noordelikes/Northlink-kollege het ná sy rits mooi vertonings die afgelope tyd laat slaplê teen Helderberg en 18-18 gelykop gespeel.
Eerskomende Saterdag se program (tuisspan eerste) is: NNK t SK/Walmer, Maties t Tygerberg, Hamiltons t Durbanville/Bellville, Kraaifontein t Goodwood, Bellville-Tech t Kuilsrivier.