OF jy nou ’n voorliefde vir kuns, komedie, klassieke musiek, teater, jazz of bloot goeie – oorwegend Afrikaanse – musiek het, kan jy eersdaags net een plek besoek: die Paarl, waar Cultivaria gehou word.
Van 25-28 September bied hierdie fees ’n eenstop-kans om meer as 100 plaaslike produksies by 11 venues te sien.
Daar’s Amanda Strydom wat ’n Kaapse draai kom maak met bekende nommers én liedjies van haar jongste album Kerse teen die Donker; Chris Chameleon wat in Driekuns met twee manne saamspan, terwyl Nataniël vir die eerste keer kom kyk waarom Cultivaria die “fees met finesse” genoem word en met sy optrede mense sal laat lag met ’n traan.
Nuwelinge by Cultivaria sluit in Richard van der Westhuizen en die Drolpeer Blêrorkes in Dorings op die Dansvloer, Karen Wessels in Groet die Grotvrou (teenoor Hannes Muller se Groet die Grotman) en die kabaret Elders aan Diens – wat die rubriekskrywer, digter, skrywer en dramaturg Jeanne Goosen as tema het (sien artikel elders op blad).
Verder vier Rocco de Villiers sy 10 jaar as solo-pianis op die verhoog in One Piano – One Rocco.
Vanjaar sal bekende sjefs en wynmakers daaglikse kosdemonstrasies lewer by Bokomo Food & Home Kitchen, nog ’n nuutjie by die fees.
Die Bala Brothers, Charlene Truter, Navi Redd, Mathys Roets en Tydloos III – waarin Rina Hugo, André Schwartz, Jannie Moolman, Arina de Witt en Kevin Leo and The Voices rolprent-tematreffers sing – is net ’n paar van Cultivaria se ander keuses.
Vir meer inligting oor die optredes en gebeure, of om te bespreek, besoek www.cultivaria.com (slegs kredietkaartbetalings) of kontak die Cultivaria-feeskantoor by 021 872 9754.
. Vyf TygerBurger-lesers kan elk dubbelkaartjies wen na Paarl Pops op 28 September om 19:00.
Sangers soos Brandon October, Kevin & The Voices en Charlene Truter sing musiektreffers van die hede en verlede.
SMS die woord “Paarl” – gevolg deur jou naam en van – na 32516 voor 3 September. (’n SMS kos R1.)