Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake | Finansies & Tegniek | LandbouWeekblad |
Huisgenoot
| Dit | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
Error processing SSI file
 

Weer
Aktueel
Sport
Vermaak
Artikels
Menings
  • Resepte
  • Kommentaar
  • Briewe
  • Rubrieke
  • Dagboek
    Motors
    Eiendomme
    News24
    Die Burger
    Argief
    MetroBurger
    Sakenuus
     
    Wie's Ons Soek Advertensies
      Aangebied deur:

    27/08/2008 03:51 PM - (SA)
    Lag die lewensfronse weg
    DELENE PIENAAR


    “HO, ho, ha, ha”, sê die 15 stemme gelyk. “Haal asem soos babas en diere, gebruik jul maagspiere,” sê Charmain Sparrow, ons laginstrukteur.

    Sy sit haar hande op haar maag om te wys watter spiere gebruik moet word. Van die een na die ander lagoefening lei sy ons. Lag vir lag voel jy die wolle in jou kop verdwyn om plek te maak vir ’n opwelling van lewensvreugde.

    “Dit werk,” dink ek. Geen wonder Buurvrou was so opgewonde oor haar lagsessies in Australië nie. En ek dog dis oor die kangeroe-grappe wat hulle daar Doer Onder vertel. Min wetende dat lag as oefening ingespan kan word.

    Charmaine vertel hoe sy vroeër vanjaar by ’n kursus oor lagterapie deur die laggogga gebyt is. Veral toe sy besef lagsessies word ingespan vir onkologie-pasiënte. “Dit gaan nie jou kanker genees nie, maar vergemaklik chemoterapie omdat die persoon minder gespanne is. Onthou ook dat kanker nie so maklik ontwikkel in ’n suurstofryke omgewing nie.”

    Sy het besluit om haar kennis met ander te deel omdat sy bewus geword het van hoe baie mense hipertensie het.

    Die lagsessie het nie net ’n onmiddellike uitwerking nie. Ook op die lang termyn bring dit goeie resultate op gesondheidsgebied. Hiervan kan sy getuig, sê Charmaine. Behalwe dat sy oorgewig is, het sy hipertensie en haar bloedsuikerlesing is hoog.

    ’n Tyd gelede het sy skoorvoetend vir haar gereelde mediese ondersoek gegaan, wetende dat sy nie by haar dieet gehou het nie.

    Sy kon haar oë nie glo nie. Haar bloedsuikerlesing het van 7 na 3 gedaal. Haar bloeddruklesing was gereeld, met medikasie, 140/90 en lees nou 120/80. Die dokter glo sy kan binnekort sonder medikasie klaarkom. “Die beste,” sê Charmaine, “ek het sentimeters om my middel verloor.” Sy skryf dit toe aan stewiger maagspiere, want haar gewig is dieselfde. Sy doen lagoefeninge een keer per week saam met die groep en elke oggend in haar motor op pad werk toe. Sy wil egter baie graag ’n laggroep vir kinders begin. “Weet jy daar is kinders van so jonk as 5 jaar wat medikasie vir depressie gebruik? Ek wil so graag die kinders leer om te ontspan. Hulle word so gedruk.”

    Dit maak ’n mens hartseer dat kinders vandag ook onder stres moet deurloop. Dis egter nie vreemd nie. Mense lag nie meer maklik nie. Kyk maar net na die stroef gesigte op straat en in die winkelsentrums. Die mense dra swaar aan hul laste en dit word oorgedra aan hul kinders.

    En al wat nodig is, is ’n bietjie lag. Lig jou mondhoeke. Bietjie wyer. Wys jou tande en begin giggel. Voel hoe die lag na jou oë kruip. Lag nou al hoe harder totdat jy uit jou maag uit lag. Nou sien, dis maklik. En jy het nie ’n grap of ’n komediant nodig om jou aan die lag te kry nie. Net die wil om te lag.

    Toe, probeer weer. Dis tog lekker om te lag.




    Back to top     Na bo

    © 2001 TygerBurger - alle regte voorbehou.