EK is so bly om te hoor daar is nog mense met dieselfde probleem – ‘‘Quad-boelie spreek tale’’ (TB, 18 Junie.) Ek het al begin dink ons is al mense wat dit moet trotseer.
Ons woon in Bonnie Brae in Kraaifontein oorkant ’n kanaal en oop stukke grond. Die oop stuk aan ons kant van die kanaal is munisipale grond, aan die oorkant – onbeboude residensiële grond en quad-ryers dink om een of ander rede dis daar vir hul plesier.
My man het al ons munisipale wykslid, saam met die hoof van die metropolisie en iemand van die munisipaliteit hier gehad en gekla.
Beloftes is gemaak om kennis?gewings op te sit, maar niks het gebeur nie.
Hoewel ons nie die polisie se tyd met sulke dinge wil mors nie, was ons ten einde raad verplig om hul hulp in te roep om hulle te kom verjaag, en dit is al wat gehelp het.
Ons is gedurig aan die “baklei” met die ryers.
My man het een kind se ouers gaan spreek en hulle gekonfronteer. Die ergste is, die eienaars en ouers van die skuldiges woon nie naby die jaagplekke nie en het dus nie ’n idee hoe steurend dit is nie.
Hoewel die polisie by twee geleenthede ons te hulp gesnel het, het die een lid vir ons gesê dat dit die munisipaliteit se verantwoordelikheid is. Ek meen strenger wetgewing moet ingebring word.
HUISEIENAAR
Bonnie Brae