MET ’n onlangse besoek aan die Kgalagadi Oorgrenspark was die Sitzat-watergat ’n gunstelingaandoenplek vir die dramas in die kleine. Dit is een van sestien watergate in die droë Auobrivier.
Die rivier vloei net in tye van vloed soos laas in 2003. Die watergat is sowat 9 km van Mata Mata waar die grenspos tussen Suid-Afrika en Namibië verlede jaar geopen is.
Die watergate word in stand gehou deur ’n pompstelsel wat met sonverhitting werk. Maar laat Sitzat self vertel:
“Kyk nou net hoe rammetjie-uitnek is die springbok weer vanoggend. Hy het sy gebied hier rondom my al vroegdag kom afbaken, soos nou weer.
“Nee, bok man, staan bietjie verder, jy spat op my. Die ander diere moet nog kom drink.
“Mens sal dink hy het al genoeg bakens gelos. Ek is juis nie meer so skoon nadat die blouwildebeeste hier deur is nie. Hulle loop mos pens en pootjies deur ons watergate. En o, tog so statusbewus. Jy moet sien hoe jaag hulle die jongklomp weg terwyl die oues drink. Die jong bulle draal maar so agter die trop aan, maar soms raak die dors darem net te erg en kom hulle nader. Dan kom die stormloop. Jy sien net stof staan.
“Hulle is maar almal so. Hou nou die springbok dop. Hy is heeloggend al op sy pos. Hier het ’n paar ramme al verbygekom, maar hy gee nie kop nie. Storm as een dit net naby my durf waag. Kyk nou, daar kom twee jong ramme aangedraf. Dink seker hulle sal twee-twee die ou uit die pad kry.
“Hé, hé, so gedink. Bok laat nie op hom wag nie. Kyk hoe jaag hy die een so ’n ent die veld in. Hier kom hy nou volstoom na die ander een. Nee kêreltjie, ek sê mos jy mors jou tyd, drink gaan jy nie vandag gedrink kry nie. Jy sal moet hol, ou. Ja, daar gaat hy.”
Swiesj. “Het jy dit gesien. Dis edelvalk wat op sy stukke is. Dis nou die tweede keer dat hy so afpyl op die namakwaduifies. Hy bons mos so in die swerm in. Tref hy een sien jy net vere waai. Hy sal maar weer moet probeer. Dis nie maklik nie, die duifies vlieg mos nie in ’n reguit lyn nie, hulle sigsag so deur die lug. Hulle is nie dom nie, weet mos valk hou hulle dop. Soms is hier ’n hele paar valke in die lug.
“Drie rooihartbeeste het ook vroegdag hier ’n draai kom maak. Hulle het eers so eenkant gebly totdat die blouwildebeeste bygekom het. Toe kom die drie ook nader. Hulle het nie water kom drink nie. Nee, hier anderkant by die sementdam is ’n soutlek waarvan hulle hou. Vol minerale of iets, vertel hulle my.
“Die rooihartbeeste voel natuurlik veilig so saam met die trop blouwildebeeste. Twee jagluiperds het hoeka gister hier rondgesluip.
“Ja, hier is die sterkes baas. Maar wat hulle nie weet nie, sonder my, Sitzat die watergat, is dit bokveld toe met almal van hulle.”