AS dit nou in die winter pap reën met goeie weer, moet jy skep en op jou fiets kom. Stel veiligheid voorop deur sekere basiese veiligheidswenke te volg.
Hoewel fietsry een van die veiligste sportsoorte is, maak ongeduld van motorryers en wrywing tussen hulle en fietsryers dit ongelukkig minder veilig. Wees dus ten alle tye sigbaar, veral in bewolkte of mistige weer.
Dra helder en weerkaatsende klere in rooi, oranje, geel, of wit en sorg dat ander toerusting ook glimstroke het.
Gebruik ’n helder lig voor en agter as die son nie skyn nie.
Ry verdedigend en met konsentrasie.
Ry voorspelbaar, moenie skielik swenk of sonder vroegtydige handtekens rigting verander nie.
Ry selfversekerd en egalig. Motoriste kan dan jou aksies antisipeer, betyds reageer en is meer bereid om die pad – wat net soveel aan jou as aan hulle behoort – te deel.
In druk verkeer ry redelik wyd van die voertuie af en moenie te na aan die sypaadjie ry nie. Motoriste is dan in die versoeking om ’n kans te vat en verby te skuur ten koste van jou veiligheid.
As dit reën, kan jy trap op jou staande oefen?apparaat, gaan oefen in die gimnasium, jou fiets behoorlik laat versien en verstel, jou fiets deeglik skoonmaak, brood?nodige instandhouding doen of fietsry op televisie kyk en sit-sit leer.
Die Tour de France begin op 5 Julie en gaan drie weke se drama en skouspel ver?seker.
Met die regte klere kan jy sonder veel ongerief regdeur die winter te oefen, veral met goeie weer en ’n bietjie later as gewoonlik wegspring. Die beste fietsry-oefening is steeds op die pad. Dit hou ry-vaardighede in stand.
Met ’n staande oefenapparaat word die agterwiel-as stewig vasgedraai. Die agterwiel loop dan op ’n silinder met verstelbare weerstand. Met ’n ritmeter wat spoed, afstand, tyd en trapomwentelinge aandui en ’n hartmonitor kan jy die aard en inten?siteit van jou oefensessie fyn beheer.
As die weervoorspelling vir die week ongunstig lyk, neem jou fiets na ’n handelaar of kenner toe. ’n Goeie nasien, verstelling of selfs herstelwerk is goud werd wanneer jy gereeld in die lente wil ry.
Daar is heelwat verskuilde plekke wat ’n kennersoog en hand nodig het. As iets al lank pla, laat dit nou verstel.
Tuis kan jy jou fiets deeglik skoonmaak. Onthou om liewers met ’n emmer louwarm, seperige water te werk as ’n hoëdruktuinslang wat water in bewegende dele inforseer. Ontghries die ketting en ratgeleiers en maak dit deeglik skoon. Smeer al die dele daarna met smeermiddels vir die ketting en ander bewegende dele.
Gaan buite- en binnebande na asook die beskermingsband rondom die binne-velling oor die speek-gate. Maak seker daar is nie glas of snye in die bande nie.
Skakel die skrywer by 021 910 0441 of besoek sy webwerf by www.dutoitcycles.co.za.