DOWWE DOLLA het eers sake in die Paarl (by Cultivaria) gaan reg?ruk en toe in Potchefstroom, terwyl ander mense die Aardklopfees kon geniet.
Nou is sy tuis op eie front, in Durbanville en – gewapen met ’n drie-weke graad in medisyne aan die UK (Universiteit van Kuba) – gaan sy ook hier die land reg dokter.
Weens die mediese sektor wat so staak, is Dolla in beheer by die Binnewand Hospitaal. Sy is die enigste dokter aan diens in die noodgevalle-saal, maar gelukkig het haar kursus vier seisoene van Grey’s Anatomy ingesluit, so sy weet presies wat om te doen wanneer die Suid-Afrikaanse Rand inmekaarsak en op die rand van die dood is.
Dolla moet ’n geldinsameling hou sodat die Binnewand Hospitaal nuwe tegnologie soos verbande en pleisters kan bekostig. Sy nooi al haar vriende in die vermaaklikheidswêreld en skinder oor almal – Dolla on E.
Brad en Ange is daar, so ook Steve, Dozi en die ander lede van die Medium 5-konsert, en natuurlik die Oom ook ...
Soos altyd het Dolla haar vingers stewig op die pols van die land (al sit daardie pols deesdae bietjie meer suid as wat hy moet) en haar Dowwe Dolla: Saal 10 word voorgeskryf vir elke pasiënt wat teneergedruk is oor die land en nie kan bekostig om te emigreer nie.
’n DVD-opname van Dowwe Dolla: Saal 10 word op 18 Oktober by die Boer in Durvanville gemaak. Nog vertonings is op 22 en 23 Oktober om 20:30. Koste: R80. Bespreek by 021 979 1911.