AS hulle mense vra om te gaan K.A.K. is dit nie uit woede of pure ongeskiktheid nie. Dié afkorting staan vir “kyk Afrikaanse komedie”.
Bek-Rek! is ’n komediegroep wat spesialiseer in standup. In Afrikaans. Dis hulle wat die publiek baie mooi vra: gaan K.A.K.
Want wat is nou lekkerder vir Afrikaanssprekendes as om so bietjie in hul eie taal te lag?
Brent Niemandt is die stigterslid van Bek-Rek! “As ons op die verhoog is Rek ons (die waarheid?), ons Bek vir die mense!” verduidelik hy oor die groep se naam.
“As mens op verhoog is om komedie te doen, moet jy nogals ’n groot bek hê om dit te kan doen.”
Niemandt het onlangs in TygerBurger ’n uitnodiging gerig tot Afrikaanse komediante om hom te kontak, en vandag bestaan Bek-Rek! uit sewe manne. Hulle bly almal in die noordelike voorstede.
Elke tweede Maandag ontmoet hulle by die Durbanville Kunskafee vir werksessies en optredes so tussen-in.
Humor is harde werk. Veral standup. Hulle moet voortdurend aan ’n nuwe aanbieding werk, sê Andre S. Kamer, ’n lid van die groep, “anders raak die mense dik vir jou”. Vier Bek-Rekkers tree dan ook saam op, ter afwisseling.
Tog is hul optredes tans ’n nuutjie. “Mense is nie gewoond daaraan om stand?up in Afrikaans te hoor nie,” verduidelik Andre.
Maar wat dan van die Evasgeslag, waar is hul humor-stem?
Niks teen die vroulike geslag nie, lag-sê Andre. Maar om een of ander rede is daar nie ’n ooraanbod van vroulike kome?diante nie.
Hieroor sê Brent: “Dit sal wonderlik wees om so ’n paar Evas te kry om die groep te join. Die deur is oop vir enigeen wat belangstel om so ’n bietjie standup te doen.”
So as jy nie die enigste persoon is wat dink jy is snaaks nie, kontak Brent by brent@comedyshop.co.za of 072 132 5596.
. Op 3 en 10 September tree Bek-Rek! by die Plaasteater (Hazendal, buite Brackenfell) op en op Maandag 8 September om 20:30 by die Durbanville Kunskafee (R30). Bel Brent vir meer inligting.