DIE Kraaifonteinse vertonings is altyd ’n lekker partytjie “want die Kapenaars kan nogal GOOI!”.
En op Saterdag 23 Augustus het die groep DJ Ossewa (van Pretoria) hul vertoning in die Kraaifontein-stadsaal selfs nog meer geniet.
Want dis nie aldag dat mens jou eerste goue DVD vier nie. “Dit is ons eerste een. Uiteindelik!” sê Eugene Vos (Marula Boom) oor die feit dat hierdie groep se DVD HeelteMAL LewenDIG goue status – verkope van meer as 10?000 – bereik het. “Nou voel ons bietjie meer ‘in’ met ander kunstenaars,” spot hy.
Eugene reken die DVD het goue status bereik oor DJ Ossewa met lewendige optredes hul ware kleure wys. “DJ Ossewa word meer waardeer as jy hulle lewendig sien optree as wat jy na ’n album luister, daarom dat ons dink dat die DVD goud gegaan het en nie een van die albums nie.”
Maar hul album Voor op die Wa is naby goud (verkope van meer as 20 000), vertel hy.
Die groep bestaan al twee en ’n half jaar lank.
Hoe sou hy DJ Ossewa se klank beskryf? “Ons maak progressie Afrikaanse lekker boere-opskop-, dans-tot-sonop musiek.”
En ja, hul CD Die Klap Mixes is ’n uitsondering. “Ons wou die projek doen om te wys dat Afrikaans ook in heavy clubs gespeel kan word. Dit was baie sports maar ons klank is anders.”
Net vier DJ Ossewa-lede het die aand in Kraaifontein opgetree. Waar was hy – Marula Boom – as vyfde lid dan?
Die groep het baie planne vir die toekoms en hy is steeds betrokke, verseker Eugene. As vyfde lid sal hy volgende jaar te sien wees in ’n landwye toer, “met ’n DJ Ossewa-vertoning wat effens meer teater gaan wees”.
Daar is ’n amptelike verduideliking vir Marula se afwesigheid, verduidelik hy: “Volgens die Ossewa-storie tans is Marula Boom Zimbabwe toe om verder te gaan studeer.”
Miskien is dit die waarheid. Of miskien dalk nie ...
. Die nuwe DJ Ossewa-album In die Lang Gras (’n album met net die ander vier lede) sal einde September beskikbaar wees.