NÁ die onlangse noodkreet van inwoners van Pantsysingel, Uitsig, is steeds niks gedoen aan die straatligte wat sedertdien Mei vanjaar buite werking is nie. Tikkoppe baljaar steeds snags in die pikdonker strate en besteel die raadop inwoners.
TygerBurger het sowat twee weke gelede navraag gedoen by mnr. Jeff van Wyk, raadslid wyk 10 Ravensmead, oor dié kwessie toe die eerste berig hieroor op 20 Augustus geplaas is. Van Wyk het kommentaar gelewer en gesê dat hoewel hy nie vir die gebied verantwoordelik is nie, hy wel sal toesien dat die situasie onmiddellike aandag geniet.
Mnr. Clive Bunton, ’n inwoner van Pantsysingel wat Van Wyk probeer kontak het nadat die berig verskyn het sê, “hy het geen poging aangewend tot dusver nie. Ons het hom gekontak en ’n boodskap op sy foon gelos, maar hy het nie teruggekom nie”.
Bunton sê dat dieselfde aand wat die eerste artikel oor dié aangeleentheid in TygerBurger verskyn het, is hy weer eens besteel. “Ek het drie keer ’n geluid buite gehoor en buitentoe gegaan, maar kon niemand sien nie, want dit is pikdonker buite,” sê Bunton. Dié aand is ’n leer ter waarde van ongeveer R1 300 uit sy werf gesteel.
Net die volgende aand is ’n inwoner in dieselfde straat, mnr. Sydney Roberts, se hek aan die voorkant van sy huis afgesteel.
’n Derde inwoner in die straat, mnr. Mogmad Kemp, sê dat twee van sy kinders se fietse en sy bakkie se wiele verlede week gesteel is. “Ons weet nie meer wat om te maak nie,” sê ’n moedelose Kemp.
Nog ’n inwoner, mnr. Faried Mauritz, se elektrisiteitsrekening vir die afgelope maand was ongeveer R630, baie hoër as die om en by R300 waaraan hy altyd gewoond was. “Dit is omdat my ligte heeltyd moet brand dat ek nou so baie moet betaal,” sê hy.
Bunton het al verskeie departemente by die Stad Kaapstad en Eskom probeer skakel, maar kom heeltyd voor dooiemansdeur. Die enigste terugvoering wat hy tot dusver gekry het, is van mnr. Glen Kleinsmith, subraadvoorsitter van Bellville. Kleinsmith het die eerste berig in TygerBurger gelees en Bunton gekontak.
Hulle sou gister (2 September) ontmoet om die situasie te probeer oplos. Kleinsmith is vir kommentaar genader en hy versoek dat instansies en inwoners wat nie by hul plaaslike raadslid uitkom met hul klagtes nie, moenie versuim om die subraad te kontak nie. “Ons staan die raadslede by om dié tipe klagtes spoediger aan te spreek. Weens die vlaag van vandalisme vat dit soms langer voordat die raadslede reageer. ’n Mens vervang nou die ligte, dan word dit môre weer uitgehaal,” sê Kleinsmith.
Die subraadkantore kan geskakel word by 021 918 2035 of 021 918 2054 en me. Rosaline Abrahams of me. Tanya Samuels sal die klagtes neem.
Kleinsmith gee ook die volgende direkte kontaknommers: vir klagtes oor straatligte, slaggate, water en riool en elektriese probleme skakel 021 918 7111, of vir enige water en rioolklagtes skakel 086 010 3054.
Mnr. Jeff van Wyk is genader vir kommentaar. Hy sê hy het wel aandag gegee en ’n gat in die pad in Malvastraat is reggemaak waaroor in die eerste artikel in TygerBurger berig is. Hy sê hy het die kwessie oor die straatligte deurgegee aan mnr. Dan Plato, wat eintlik die raadslid is van die betrokke gebied in Uitsig.
“Ek wil nie ingryp in ’n ander wyk nie,” sê Van Wyk.