DURBANVILLE, Bellville en die Universiteit Wes-Kaapland het Saterdag in ’n reeks eendaagse krieketwedstryde in die WP se topliga weggespring met oorwinnings.
UWK (95/1) het Noordelikes-Goodwood (94) met 9 paaltjies verniel ná uitstekende bydraes deur Sean Kristal (4/19), Robert van der Ross (3/9) en Bevan Bennett (44, n.u.n.).
Kuilsrivier (151) wat in ’n stadium na 79/8 gestrompel het, in antwoord op WP-klub se 200 lopies, is met 49 lopies deur die Kaapse span getroef. Charlton Adams (61) het die wankelrige kolfvertoning in ’n mate reggeruk. Craig Ephraim (3/27) was die Kuile se beste bouler.
Durbanville (221/5) het sy groot oorwinning met 69 lopies oor Pinelands (152) grootliks te danke aan ’n derdepaaltjie-vennootskap van 152 lopies tussen Jacques du Toit (96) en Jaco Castle (92). Die afrondingswerk is gedoen deur die draaier Dale Bendon (5/37).
’n Goeie veelsydige vertoning deur Renier Munnik (55, n.u.n. en 3/19) het ’n groot aandeel gehad in Bellville (136) se sege met 52 lopies oor Rygersdal (84).
Tygerberg-klub en Glamorgan wat die afgelope naweek los lootjies gehad het, is wel die komende Saterdag in aksie wanneer die eerste reeks tweedaagse wedstryde begin. Die program (tuisspan eerste) is: Bellville t Claremont, Durbanville t Rygersdal, UWK t United, Kuilsrivier t Glamorgan, Noordelikes-Goodwood t Pinelands, Tygerberg t Somerset-Wes.