DIE toonhuis vandeesweek is ’n imposante woning geleë in Vierlandenstraat 9 in die boomryke en gewilde woonbuurt Vierlanden.
Die eiendom word bemark vir R2 495 000. Met die inryslag bied die woning ’n mooi prentjie met uitsonderlike lyne. Die woning is goed afgewerk met gekapte siersteen met aluminium-vensters wat onderhoud aansienlik vergemaklik. Hierdie huis is ontwerp met die oog op lekker onthaal en is ’n perfekte gesinswoning. Die ingangsportaal lei na ’n private sitkamer aan jou regterkant en ’n studeerkamer met ingeboude lessenaar en kaste aan jou linkerkant. Die leefareas is besonder ruim met ’n kaggel en ondervloerse verhitting vir die koue wintersdae en ’n groot binnebraai (hout en gas) perfek geposisioneer sodat die mans nie eenkant hoef te braai nie. Die kombuis is gesellig met ’n eiland in die middel en aparte opwasgedeelte. Die leeafarea vloei uit op ’n kuierstoep met aluminium-oproldak, wat uitsig bied op die swembad en tuin. Links uit die leefareas is ’n ruim hoofslaapkamer met ’n pragtige uitsig, ’n aantrekkamer, en suite-badkamer met verhitte handdoekreëlings, groot stort, toilet en wasbak, en in die hoek van die slaapkamer ’n bad met ’n uitsig by die hoekvenster. Aan die regterkant van die leefareas is twee ruim slaapkamers met ’n gesinsbadkamer. Die woning bied ook ’n huishulpslaapeenheid en buitenste gastekamer met badkamer. Daar is drie ruim motorhuise met direkte toegang, outomatiese deure en stoorruimte in die plafon. Sekerheidsgewys is die woning ten volle omhein, beskik dit oor ’n interkomstelsel en outomatiese hekke. Die grootte van die huis is 350 m² en die erf is 1024 m² groot. Kom besoek gerus dié gesogte skouhuis op Sondag van 14:00 tot 17:00 om die waarde, spasie en afronding te besigtig.
Die eiendom word bemark deur Manja Kritzinger van Realtors International. Bel haar by 082 566 2974 of 021 975 5720.