ALTESAME 27 motors is binne een jaar in Goodwood gekaap.
Volgens die amptelike webtuiste van die polisie is dié motors sedert April verlede jaar tot einde Maart vanjaar gekaap. Die is die hoogste aantal gekaapte motors sedert April 2001. Die meeste motors wat voorheen gekaap is, was in die tydperk April 2005 tot einde Maart 2006 toe 12 motors gekaap is.
Huisrooftogte sedert verlede April tot Maart vanjaar, het op ’n totaal van vier gebly sedert die ooreenstemmende tydperk in die vorige boekjaar. Sakepersele het meer deurgeloop met sewe sakeondernemings wat beroof is.
Honderde huise het onder inbrake deurgeloop. By altesame 326 huise is ingebreek sedert verlede April tot Maart vanjaar. Dit is minder as die vorige ooreenstemmende tydperk toe 333 huisbrake plaasgevind het. In die tydperk April 2001 tot einde Maart 2002 was daar 440 inbrake by huise.
Altesame 344 motors is gesteel wat meer as 100 motors minder is as vyf jaar gelede. Diefstal vanuit motors het die afgelope vyf jaar ook verminder van 554 na 436.
Dwelmverwante misdade het gebokspring van 84 vyf jaar gelede na 346 van April tot Maart vanjaar. Kommersiële misdaad, wat meestal met kredietkaarte verband hou, het ook die afgelope vyf jaar toegeneem van 185 na 259.
Winkeldiefstal het sedert vyf jaar gelede toe 230 aangemeld is, toegeneem na 307. Volgens ’n polisiewoordvoerder het winkels hul sekerheidsmaatreëls die afgelope paar jaar verskerp. Meer mense word dus betrap wanneer hulle winkeldiefstal pleeg.
Intussen waarsku die Bellvillese polisie dat verskeie voertuie wat in verskillende woongebiede rondbeweeg, verbind word met misdaad. Die Bellvillese polisie het gewaarsku dat ’n maroenkleurige VW Jetta 2, registrasienommer CJ 304 526, met huisbrake verbind word.
Wees ook bedag op ’n wit Jetta, registrasienommer CA of CY 179 492. Dié voertuig beweeg in Welgemoed rond en insittendes skop glo huise se voordeure af om in die middel van die nag in te breek.
Daar is ’n ou BMW 7-reeks wat verbind word met inbrake. ’n Rooi Ford Laser met ’n vin op sy dak word verbind met motordiefstal en die polisie is ook op die spoor van dié voertuig wat ’n CAW-registrasienommer het. ’n Wit kombi en ’n wit Toyota word ook onder verdagte voertuie ingesluit.
TygerBurger het onlangs berig oor ’n rooi Jetta wat op ’n oprit by ’n huis in Stellenberg geparkeer was. Enkele oomblikke later is die huiseienaar se bakkie gesteel.
Kapt. Fienie Nimb, mediawoordvoerder van die Bellvillese polisie, het inwoners gemaan om nie die bestuurders van die verdagte voertuie te konfronteer nie.
Dir. Deon Hagen, die stasiebevelvoerder van die Bellvillese polisie, sê sodra verdagtes van ’n motordiefstalsindikaat aangekeer word, stig die verdagtes wat nog op vrye voet is, dadelik weer ’n sindikaat.
Ou motors word meestal gesteel. Dit is baie moeilik om dié gesteelde voertuie op te spoor want hulle word dadelik afgetakel en die onderdele verkoop.
Nuwe, eksklusiewe motors word nie gesteel nie, hulle word gekaap. Wees bedag op motors wat agtervolg, het hy gewaarsku.
“Ons het ervaar dat misdadigers van een gebied na ’n ander beweeg as die polisie dit vir hulle te warm maak,” het hy gesê.
Volgens hom word dranklisensies tans maklik toegeken. Polisie-optrede teen ongewenste kuierplekke word gekortwiek deurdat eie?naarskap vinnig verwissel sodra die polisie begin optree.