BLINK vertonings deur die o.19A-rugbyspanne van Brackenfell, Milnerton en Scottsdene was die glanspunte van die laaste reeks amptelike skolerugbywedstryde die afgelope Saterdag.
Die Brakke het alle afdelings van die spel in hul interskole-kragmeting teen De Kuilen beheer en 22-3 met die Kuile afgereken.
HTS Bellville het ’n gulde geleentheid om die louere met HTS Drostdy te deel, verbeur toe die Bellvilliete (10-13) ’n strafskop naby die pale in die laaste minuut van dié interskole-botsing verbrou het.
In die o.19-kompetisie van Die Burger vir die topspanne in die Wes-, Suid- en Oos-Kaap is Milnerton in die afdeling vir mediumgroot-skool as die kampioen gekroon, terwyl Scottsdene die afdeling vir klein skole gewen het.
Milnerton het in die halfeindronde Schoonspruit (die Boland se verteenwoordiger) 14-12 geklop en Saterdag in die eindstryd die HS Brandwag (Uitenhage) 28-27 getroef deur die wendrie in die laaste minuut van die wedstryd te druk.
Scottsdene het (net soos Milnerton) sy onoorwonne status vir die seisoen behou deur in die halfeindronde Hawston 34-5 te verslaan en in die eindronde 13-9 met die HS George af te reken. (Paarl Gimnasium het die afdeling vir groot skole gewen deur Hugenote en Outeniqua te klop.)
Elders in die WP is President deur Rangers-klub beperk tot ’n gelykop-uitslag van 7-7, maar Fairbairn (14-8 t J.G. Meiring), Fairmont (22-7 t Eben Dönges) en The Settlers (23-19 t Reddam-kollege) het die seisoen met oorwinnings afgesluit.
Kasselsvlei het Westerford 34-10 geklop, maar het Saterdag 12-14 teen Hamiltons-klub vasgeval.
Scottsville het 10-5 die kous oor die kop gekry van Somerset-kollege, terwyl Bosmansdam ’n loesing van 51-0 teen Labori in die Paarl gaan haal het. Jan Kriel-skool en Westcliff se derby-wedstryd het 0-0 gelykop geëindig.