DIS nou ’n kwessie van die swanger vrou, die vriende en die kerkkantoor.
Want dit wil ál voorkom asof kerkkantore nou geteiken word, want moontlik dieselfde swanger vrou en van haar vriende wat verlede week ’n kerkkantoor in Kraaifontein van duisende rande beroof het, het reeds ’n paar dae vantevore by ’n kerk in Oostersee ook toegeslaan.
Mnr. Sewis Boshoff, koster van die NG kerk Oostersee, sê die voorval het een weeksmiddag omstreeks halfdrie gebeur. Hy was in die konsistorie besig toe drie mense aan die deur geklop het. “Die een vrou het ek so in haar dertigs geskat, die ander een was hoog swanger en dalk in haar twintigs, en dan was daar ’n man ook van omtrent dieselfde ouderdom,” sê hy.
“Die een vrou het gesê hulle wil met my gesels oor ’n kind wat hulle vir kategese wil inskryf en gesê sy wil self ook ’n lidmaat word. Sy het ons predikant ook gesoek, waarna ek gesê het hy is met verlof. Sy het ook na ons skriba, me. Karin Kirkman verneem, maar sy was nie daar nie en haar kantoor was gesluit. Ek het vir haar gesê ek kan haar egter help met inligting. Terwyl sy so aanhoudend gepraat het, het die man by hulle haastig geraak en gesê hy wil die kerk binne sien. Ek het begin vermoed die vrou praat so baie omdat sy tyd wil opmaak.”
Boonop wou die swanger vrou toe nog ’n draai ook loop, sê Boshoff. “Mnr. Joseph Dayimani, een van ons werkers, het op daardie oomblik met ’n emmer waswater daar aangekom om die vloer te was. Ek het hom toe aangesê om eerder na die kerk te gaan en (kamstig) daar te begin was, bedoelende dat hy ’n ogie oor die ander twee in die kerk moet hou. Hy het dit gesnap en is saam met hulle soontoe.”
Die swanger vrou roep toe intussen na Joseph om vir haar toiletpapier te bring omdat sy kwansuis nie die papier wat daar was, van sy omhulsel kon afkry nie. “Natuurlik ook om hom weg te kry uit die kerk sodat die ander twee kon gaan steel. Ons het egter vasgeskop en gesê daar is ander papier in die toilet.”
Boshoff sê dit was egter nog nie die einde nie. “Die ander twee wil toe nog die katkisasieklaskamers oorkant die pad ook sien. Ek het gesê daar is niks om te sien nie. Natuurlik wou die swanger vrou wat uiteindelik uit die toilet gekom het, óók nog alles sien. Toe sy wou water hê om te drink, sê ek daar staan ’n glas, maar toe kla sy oor die water. Ek het gevoel nou mors hulle darem my tyd te veel en het besluit om die saaldeur te gaan sluit.”
In die voorportaal het hy gesien die hoofdeur staan effens oop, sê Boshoff. “Ek het Joseph gevra om te gaan kyk of alles nog in die jeugwerkers se kantoor in orde lyk, want daar is gewoonlik rekenaars en ’n kamera. Niks was daar nie en ek het mnr. Wicus Kruger, die jeugwerker, dadelik gebel om te hoor of hy sy rekenaar saam met hom geneem het. Wicus het gesê hy het dit by die kerk gelos en dadelik in sy motor gespring. Intussen was die besoekers al weg. Terug in sy kantoor het ons op die sak in ’n hoek afgekom waarin ons besoekers die rekenaar en ander goed gesit het. Hulle wou seker nog terugkom om dit te gaan haal, maar ons het hulle gelukkig nie ’n kans gegee nie. Niks verder is gesteel nie, maar ons wil ander gemeentes waarsku om versigtig te wees. Ons het die saak ook by die polisie gaan aanmeld.”
’n Duitse kleuterskool geleë op die perseel van die Evangeliese Lutherse Kerk in Middelstraat, Bellville, asook die kerkkantoor, was op 8 Augustus byna self die teiken van vermoedelik dieselfde groep.
Daar was ook ’n “hoog swanger” vrou en haar vriendin wat die kleuterskool en kerkkantoor se personeel genader het terwyl ’n mansvriend buite die perseel in ’n motor gewag het. Die groepie is gestuit deur wakker personeel.
’n Ouer wat anoniem wil bly, het gesê die swanger vrou en haar vriendin het so 12:30, terwyl die ouers hul kinders kom haal, glo kom navraag doen oor die kleuterskool om iemand anders se kind te laat inskryf. Die swanger een wou die toilet gebruik, maar het die seunsgedeelte van die toilette gebruik.
Die groep het daarna na die kerkkantoor beweeg waar die swanger vrou weer eens die badkamer wou gebruik. Die groep is daarna vort sonder dat hulle iets kon steel. ’n Week later het die kleuterskool nog steeds geen aansoek ontvang nie.